Dis Koninkryktyd!

Deur: Ds. Marius Breytenbach

Van na Pinkster tot aan die begin van die Adventtyd (in aanloop tot Kersfees) breek ’n tyd in die kerkjaar aan wat ons koninkrykstyd noem. Hierdie begrip het die kern van Jesus se prediking gevorm. Die oorgrote deel van die bevolking in Jesus se tyd se begrip van ’n koninkryk was waarskynlik nie baie positief nie, omdat dit onder andere na die magsbehepte Romeinse keisers wat die landsburgers se lewens beheer het, verwys het. Wanneer Jesus dan oor God se koninkryk gepraat het, het dit as praktiese verwysing gedien van hoe anders God se heerskappy lyk teenoor dit wat  hulle in hulle eie teenswoordige wêreld beleef het.  Jesus se prediking het die vroeë gelowiges geïnspireer om te midde van onreg, onsekerheid en die vrees wat daarmee saamgaan, doelgerig in hulle hede te leef in plaas daarvan om opstandig te raak. God regeer oor die magte en realiteite van hierdie wêreld – ’n wêreld waarin gewone mense met geen mag nie, tog ook betekenisvol kan meeleef.

In Stellenberg begin ons die koninkrykstyd met ’n preekreeks van vyf weke,  genaamd – ’n Lewe binne God se koninkryk. Ons volg die lewensverhaal van koning Dawid en die wyse waarop sy geloof deur die uitdagings, geleenthede en krisisse van sy tyd gevorm is.

Ek glo, groei en aanvaar myself, omarm ander en leef só om ’n verskil in hierdie wêreld waarin God regeer, te maak.

Jy kan op die volgende maniere aktief deelneem aan hierdie geloofsreis:

  • Eredienste. Skakel in by ons drie eredienste wat aanlyn beskikbaar is. Vanaf  5 Julie is daar ook bykomend twee erediensgeleenthede in die kerk wat  bygewoon kan word – sien afkondiginge in die bulletin op Sondag 21 en 28 Junie.
  • Besoek Bybel Media se webruimte faithpath.co.za en voltooi van die aanlyn vraelyste wat daarop beskikbaar is. Daar is verskeie vraelyste op die webwerf wat jou sal begelei om jou eie geloofstyl beter te verstaan.
  • Hou die bulletin en webwerf dop vir geleenthede waar jy interaktief kan deelneem aan besprekings oor hoe ons prakties ons geloof in die huidige omstandighede kan uitleef.
  • ’n Bykomende vraelys word gratis, net vir Stellenberg-lidmate, beskikbaar gestel. Om die skakel na die vraelys te bekom, stuur ’n e-pos na karin@stellenberg.co.za.