Dirk Heyneman – nog ’n nuutverkose ouderling

Saam met Dirk op die foto is: Hanneke, sy vrou, Dirkie, Lisa en Danika.

Dirk Heyneman is onlangs as ouderling vir die strategiekommissie verkies.  Hy vertel dat hy ’n Bolander in murg en been is.  Hy het sy skoolloopbaan op Ashton begin en sy hoërskooljare is in Robertson geslyp.

Dirk bedryf sy eie besigheid.  Hy is ’n landskapsargitek en sy onderneming se naam is TreesOnline.  Die Heynemans is baie lief vir fietsry en kampeer ook graag.  Familietyd is vir hulle kosbaar en hulle hou jaarliks vakansie in Tergniet, net buite Hartenbos.  Dirk sê hulle het ’n familiehuis in Tergniet en hy het al as voorskoolse seuntjie daar gaan kuier.  Die Suid-Kaap se see en natuurskoon het ’n besondere plek in sy hart.

Dirk en sy gesin is sedert 2014 lidmate van Stellenberg-gemeente.  Volgens Dirk is hulle as gesin dankbaar vir wonderlike vriendskappe wat hulle met ander lidmate gesmee het, asook die wyse waarop daar binne die gemeente vir elke lidmaat na gelang van sy/haar behoeftes ruimte geskep word.  Die hoë gehalte van die preke en die feit dat die boodskappe relevant en in ooreenstemming met hulle gesin se eie geestelike waardes is, is van die redes hoekom die Heynemans opgewonde is om lidmate van Stellenberg te wees.

Oor sy rol as oudeling sê Dirk dat hy graag wil help om die gemeente so te laat ontwikkel dat ons relevant binne die hedendaagse samelewing sal bly, sonder om ons geloof en Bybelse waardes te versaak.

In sy eie woorde: “Ek sien baie uit daarna om te help en te begin dien.”