Gedagte vir die dag | Dinsdag 19 Januarie 2021

Romeine 1:16: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.

En die bekende vers 17: In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.  Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Een ding wat die lewe my geleer het, is om nooit verskoning te vra vir ’n standpunt wat jy in neem as jy met jou hele hart daarvan oortuig is nie.  Dit gaan natuurlik oor hoe ’n mens dit dan nou doen. Nêrens in die Bybel leer ons dan ons ’n sogenaamde nederige – ekskuus-dat-ek-lewe-houding moet in slaan nie, inteendeel dink juis hier aan wat Paulus vir ons sê: “ek skaam my nie oor die evangelie nie.”  Hy sê dit ondubbelsinnig.

Ek het gehoor van iemand wat daar van my wêreld kom en die arme man vra gedurig omverskoning vir sy opinie en teenwoordigheid, asof hy net skuld en geen regte in die lewe het nie.  Hy het vergeet dat hy as mens ook deel van die kroon van God se skepping uitmaak.  Hy het verleer om sy lewe te sien as ’n gawe van God, wat hy elke dag met dankbaarheid mag geniet en tot beskikking van sy Skepper en medemens stel.  Daarom is hy nie ’n sprankelende getuie van hierdie genade van bo nie, maar eintlik ’n patetiese apologetiese figuur wat die genade soos ’n swaar kruis deur die lewe moet dra.  Jare gelede het die jong Franse martelaarres, Catharina, die dapper woorde van Gregorius van Avignon geskryf.  Sy het gesê: “Ek sien geen rede om sleg gekleed na jou eie graf te gaan nie.”  Die bekende Alister McLean se graf lê langs die van die akteur Richard Burton, by  Céligny, vlak by die meer van Geneva in Switserland.  Op Burton se grafsteen staan net sy naam en die jaartalle, 1925-1984, maar op McLean se graf staan die woorde: “Come my friends, ‘tis not to late to seek a new world.”

Met die genade van bo wag ’n nuwe 2021, ’n nuwe onsekere wêreld vir jou en my.

Gebed: Here dankie dat ons, ons nie hoef te skaam nie.  Dankie dat U vir ons ’n geleentheid en vastrapplek in die wêreld gee.  Dankie vir die klein stukkie wêreld van elkeen van ons, en ek bid dat U vir ons die genade sal gee om positief vorentoe te leef.  Dankie dat U vir ons die vermoë gee om ’n mening en opinie te kan hê.  Gee dat ons met takt ons standpunte sal kan stel, dat ons versigtig sal leef, en dat ons, ons nie hoef te skaam vir wie en vir wat elkeen van ons is nie.  Omdat ons onsself ’n kind van Jesus kan noem.  Gee dat ons met deernis, en medelye maar ook met beslistheid sal kan lewe deur hierdie jaar.