Die waarde van huisgeloof

Deur: Ds. René Potgieter

Inleidend

Ons lewens is gejaag en ons het al minder tyd vir mekaar.  Dit is amper asof besigwees ’n statusaspek geword het. Elke dag is daar druk om meer te doen, meer te wees en vinniger te lewe en kort voor lank besef ons dat ons as gesin nie meer genoeg tyd saam deurbring nie.

Moderne families bring al minder gehaltetyd saam deur, terwyl om dinge as gesin saam te doen juis vandag belangriker as ooit tevore is.  Met al die uitdagings waarmee kinders deesdae te kampe kry, is dit noodsaaklik dat gesinslede tyd vir bymekaarkom inruim.  “Liefdevolle verhoudings is ‘n gesin se beste beskerming teen die uitdagings van die lewe.” (Bernie Wiebe) Kinders moet ook weet dat hulle “behoort” en een van die beste maniere om dit te bereik, is deur gereeld as gesin saam aan alledaagse dinge en aktiwiteite mee te doen.  Deur almal saam te eet, bordspeletjies te speel, buite te speel, ‘n fliek te kyk, of deur die tradisie van huisgeloof, skep en  bou gesinne wonderlike herinneringe.

Die huis as plek van geloofsvorming

Die ouerhuis is die primêre plek waar geloofsvorming moet plaasvind.  Ouers wil graag hulle kinders leer van God se liefde,  asook die waarde van Bybellees en bid, maar is soms onseker oor hoe om huisgodsdiens interessant en toepaslik vir vandag se lewe met hulle kinders aan te pak.  Daarom het ons besluit om as uitvloeisel van die gesinsdiens, aan ouers ondersteuning te bied deur middel van ons eie huisgeloof-hulpmiddel.

Huisgeloof

Huisgeloof is nie net nóg ’n kerkprogram nie.  Beskou dit eerder as ’n nuttige hulpmiddel vir gemeenteouers. Geloofsvorming by kinders is ’n deurlopende proses wat daagliks plaasvind en ongelukkig nie net tot ’n paar ure op ’n Sondag by die kerk beperk kan word nie.  Om die evangelie regtig in kinders se harte te laat posvat,  moet ouers met hulle kinders gesels oor hul eie belewenis van God, asook hoe en waar hulle God in hul eie alledaagse lewe ervaar.

Hoe kan jy die huisgeloof-hulpmiddel gebruik?

Die teks en tema wat op ’n bepaalde Sondag by die gesinsdiens gebruik is, word meer omvattend en met besprekingsvrae in HUISGELOOF uiteengesit.  Die dagstukkies is lekker kort en julle kan dit weekliks van Stellenberg se webwerf aflaai.

Gebruik die huisgeloof-hulpmiddel om kosbare gesinstyd te vestig. Dit moenie soos ’n straf vir die gesin voel nie. Kinders moet dit geniet en ouers moet ook vreugde daaruit put om so saam met hulle kinders die Bybel beter te verstaan. Die huisgeloof-hulpmiddel skep ook ’n geleentheid waarbinne kinders kan leer om voorbidding vir mekaar, maats of uitgebreide familie te doen en om ook dit wat op hulle harte druk, met die res van die gesin te deel.