Deur: Ds. Schalk van Wyk
Een van die heel mooiste liedere wat vir my die essensie van Jesus se opwekking uit die dood raakvat, het nie halleluja-uitroepe in nie en is ook nie as ʼn Paaslied geskryf nie – dit is ʼn popliedjie!
Die melodie kom uit Skotland en is in 1888 gekomponeer om ʼn Kersliedjie vir kinders te wees. In 1939 het die melodie ander lirieke gekry en opgehou om ʼn Kersliedjie te wees. Hy het toe as ʼn kinderliedjie wat die vreugde van ʼn nuwe dag besing, in die Anglikaanse liedboek beland. So het ʼn Britse Sondagskoolkind, wat later ʼn beroemde popsanger sou word, tussen 1955 en 1960 die woorde leer sing. Die kind het grootgeword en in ʼn popsanger ontpop. In die omgewing van 1971 het hy eendag sy ou liedboek nadergesleep. Hy was desperaat op soek na inspirasie, want hy moes nog ʼn lied of twee skep om ʼn nuwe langspeelplaat vol te maak. Toe blaai hy deur die kerk se liedboek en, dáár kom die inspirasie! Hy het die woorde net so geneem, maar hy moes vir die melodie akkoorde skryf sodat dit kitaarvriendelik kon wees. Die platemaatskappy was skugter en het hom uit die liedjie probeer praat. Die kunstenaar wat hom op die klavier moes begelei, was ook daarteen: ʼn Melodie geskik vir kinders en boonop ʼn kerklied op ʼn popmusiek langspeler? Nee, nee, nee! Die sanger het egter ʼn onfeilbare aanvoeling gehad van wat gaan werk en hy het vasgebyt en dit het een van sy grootste treffers geword. Hy het later gesê dat dit hierdie liedjie was wat hom gedefinieer het.
Die sanger? Cat Stevens! (Hoe op aarde is dit moontlik dat hy ʼn Moslem kon word?)
Die liedjie:
Morning has broken like the first morning
Blackbird has spoken like the first bird
Praise for the singing
Praise for the morning
Praise for them springing fresh from the Word.
Sweet the rain’s new fall, sunlit from heaven
Like the first dew fall on the first grass
Praise for the sweetness of the wet garden
Sprung in completeness where His feet pass.
Mine is the sunlight
Mine is the morning
Born of the One Light Eden saw play
Praise with elation, praise every morning
God’s recreation of the new day.
Morning has broken like the first morning
Blackbird has spoken like the first bird
Praise for the singing
Praise for the morning
Praise for them springing fresh from the Word.
Sou Eleanor Farjeon, wat die woorde gedig het, dalk op ʼn mooi lenteoggend, ná die vorige nag se laaste winterreën, ʼn swartlyster in die tuin hoor sing het (“Blackbird has spoken”)? Ons weet ongelukkig nie. Uit haar woorde is dit egter duidelik dat die wonder van ʼn mooi, skoon, helder nuwe oggend; die heerlikheid van nat gras in die tuin; ʼn son wat skyn en die lyster se liedjie-refrein vir haar gevoel het soos die eerste Sondagoggend toe God klaar op die Sabbat gerus het en die pas geskape wêreld soos ʼn babatjie sy eerste glimlag gee.
Al laat hierdie liedjie my loer na die tuin van Eden, neem hy my nie daarheen nie. Hy bring my, wat met hallelujas in die hart verstaan wat destyds oor die Paasnaweek in Jerusalem gebeur het, na ʼn ander tuin. Vir wat sou ek wou sing oor ʼn wêreld wat herinner aan die tuin van Eden waar Adam die tuinier was? As ék die liedjie sing, bring hy my na die tuin van Getsemane waar Jesus die Tuinier is.
Dit is die tuin waarin Maria op die vroeë Sondagoggend, die dag nadat die Skepper van die nuwe hemel en aarde sy Sabbatsrus in die graf geniet het, die Tuinier ontmoet het (Johannes 20:1-18). Toe Maria tuin toe is op die Sondagoggend na die kruisiging, sou daar waarskynlik ʼn Eurasiese swartlyster (ons liedjie se blackbird) iewers in ʼn boom ʼn reeks geslurpte fluitjies gepunktueer met ʼn verwarde tjirp, laat hoor het. Dié voëls is immers al van die begin af volop in Israel se tuine – maar dit is onwaarskynlik dat Maria sou kennis neem van die voëls in die lug, of die dou op die gras, of die son se verkleuring van die dagbreekhemel. Haar oë was immers nog te vol van oudwêreldse trane, want sy het nog nie met die geloofsoog leer kyk nie. Sy het toe mos nog nie gesnap dat Jesus van die nuwe skepping gepraat het toe Hy aan die kruis gesê het: “Dit is volbring!” nie. Hoe kon sy toe al weet dat God Hom uit die dood opgewek en só die kwitansie uitgereik het vir ons afbetaalde skuld. Hoe kon sy weet dat die opwekking van Jesus die manier was waarop God die kaart en transport vir die nuwe hemel en aarde aan Christus uitgereik het. Hoe sou sy kon weet dat Christus die nuwe Tuinier van die nuwe tuin wat Getsemane en die tuin wat later die Nuwe Jerusalem genoem sal word, is? Hoe sou sy kon weet dat die ou tuin, die ou Eden, die ou wêreld waarvan die ongehoorsame Adam en sy nageslag die tuiniers was; dat hierdie ou verrinneweerde wêreld vol distels, dorings en geboortepyne; dat hierdie ou wêreld saam met Christus aan die kruis gesterf het? Eers baie jare later het die Heilige Gees vir Johannes gehelp om hierdie waarheid te snap. Tog, diep in Maria se onderbewussyn, het die Heilige Gees reeds ʼn saadjie geplant. As sy Jesus nie herken nie, kom dit by haar op dat Hy die tuinier is, en sonder om dit te weet, is sy op daardie oomblik presies reg!
Johannes, so het ek al in vorige uitgawes geskryf, doen baie moeite om ons te help verstaan hoe die moles met die eerste tuinier, Adam en die verbode vrug – die moles wat God se wonderbare skepping in Genesis kom verrinneweer het – deur Jesus omgekeer is. In die Evangelie beskryf hy hierdie ommekeer soos ʼn raaisel. Daar is immers vir al wat ʼn leser is, iets raaiselagtigs aan die Johannnes-evangelie. Terwyl jy dit lees, voel jy heeltyd dat jy verstaan, maar tog ook nie. Johannes wil egter hê dat ons dié raaisel moet uitwerk. Daarom gee hy vir ons leidrade: Onthou, die hele boek gaan oor die Woord deur wie alles wat bestaan, ontstaan het. Die wonderwerke van Jesus is nie daar om jou te verstom nie, hulle is leidrade, hulle is tekens wat van hulleself wegwys na iets groters, wil hy sê. Hier is baie verwysings na die Ou Testament en hulle sal jou help om die raaisel te ontrafel, wil hy sê. Speel ʼn bietjie speurder, wil hy sê; los die raaisel op, wil hy sê.
In ʼn goeie skoolhandboek sal jy soms aan die einde van ʼn hoofstuk ʼn toetsie kry wat jy kan invul. Dan is daar heel agter in die boek ʼn paar bladsye met die regte antwoorde sodat jy jou toets self kan merk. As Johannes vir ons die raaiselboek skryf, los hy ons nie alleen om te wonder of ons die regte antwoord gevind het nie. Aan die einde van die Groot Boek word die antwoorde vir ons gegee. In Openbaring 21-22 sien ons dit: ʼn nuwe hemel en aarde, ʼn nuwe heelal. As niks wat bestaan sonder die Woord ontstaan het nie, is hierdie nuwe heelal ook deur Hom gemaak. Daar op Golgota is hierdie skepping volbring. Die Tuinier wat uit die graf opgewek is, en lewe! het toe reeds die boom van die lewe langs die hoofstraat in die nuwe Jerusalem geplant. Daarom daal hierdie stad, voorafvervaardig, met die boom van die lewe en al, uit die hemel op die nuwe aarde neer.
Volgende week dink ons, as die Here wil, ’n bietjie oor hierdie nuwe hemel en aarde na.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss. Hy verwag nie dat almal noodwendig met hom saamstem nie en nooi lesers om hom per e-pos te kontak by swvanwyk@gmail.com.