Die Sondagkoster – ons groet vir Susan en verwelkom vir Christine

Foto links: Christine Morsbach.  Foto regs: Susan van Zyl

 

Susan van Zyl het in 1995 as Sondagkoster in die gemeente begin werk.  Sedertdien is sy elke Sondag vanaf 07:15 op haar pos om seker te maak alles is reg en gereed vir die eredienste.  Susan het al voorheen aan Stellenberger vertel hoe 110 klein goedjies op ’n Sondag baie vinnig skeef kan loop – veral die oggend toe die klok se bel sommer een Sondagoggend deur die kerk se dak tot op die vloer geval het.

Susan is egter met ’n vriendelike, flegmatiese temperament geseën en het enige voorval op haar kenmerkende kalm manier hanteer.  Sy het haar boonop oor die jare as ’n staatmaker wat altyd bereid was om by enige gemeenteaktiwiteit behulpsaam te wees, bewys.

Die verantwoordelikhede op ’n Sondag stop ook nie sommer net na die eredienste nie.  Daar is heelwat opruimingswerk nadat die kafeteria en teetuin leegloop en dan begin voorbereidings vir die aand se jeugdiens weer.

Susan het aftreeouderdom bereik en moet die gemeente se diens verlaat.  Haar teenwoordigheid en raakvat gaan beslis op Sondae ’n baie groot gemis wees.

Mag Sondae nou ook vir jou ’n rusdag word, Susan.  Ons gun jou die blaaskans en is dankbaar dat ons jou nog by die feesmark sal raakloop. Red.

Christine Morsbach, ook geen onbekende in die gemeente nie, is in Susan se plek as Sondagkoster aangestel.  Christine is reeds die afgelope vier jaar by die gemeente werksaam as ’n assistant tydens die aanbieding van begrafnisse.  Sy is ook ’n bekende gasvrou by die kafeteria op Sondae en het tydens die onlangse Pinkster ook die bediening van sop na die eredienste gekoördineer.

Welkom by die span, Christine.  Ons vertrou dat ’n geseënde dienstyd vir jou in die gemeente voorlê.