Die Omgeetrust maak ’n verskil

Die Omgeetrust is in 2008 deur gemeentelede gestig om verdienstelike naastediensprojekte aan te pak en finansiële steun aan hulle te verleen.  Die trust se fokusareas sluit in:

  • Verlate, mishandelde en wees- of verwaarloosde kinders.
  • Behoeftige senior burgers.
  • Voorskoolse kinders.
  • Persone met MIV/VIGS en hulle afhanklikes.
  • Ondersteuning van ander PBO’s met soortgelyke doelstellings.

Die trust is as ’n openbare weldaadsorganisasie (PBO) geregistreer en word deur onafhanklike trustees bestuur.  Bydraes tot die trust kwalifiseer vir inkomstebelastingaftrekking. Stellenberg-gemeente verskaf administratiewe ondersteuning aan die trust.

Die trust ondersteun deurlopend verskeie projekte, maar plaas ook groot klem daarop om strukture te help skep in areas waar bestaande instansies reeds dienste lewer, maar dienslewering weens onvoldoende fondse nie uitgebrei kan word nie.

Die volgende kapitaalprojekte is aangegaan:

Heaven’s Gate Kinderhuis: Die omgeetrust het 50% van die koopprys befonds om saam met  Shiloh ’n huis in Kraaifontein vir hawelose kinders in te rig.  Daar word tans ses kinders gehuisves.

Ruyterwachthuise vir seniors: Twee huise is in Ruyterwacht aangekoop waar hulpbehoewende bejaardes sonder heenkome, gehuisves word.  Die huis word deur Ruyterwacht Senior Sentrum en Badisa bestuur en huisves tans 13 bejaardes.

Alta du Toit Nasorgsentrum: ’n Fasiliteit van waar die nasorgsentrum herwinningsprojekte kan bedryf, is geskep.  Dit  bied ’n addisionele inkomste vir die sentrum en inwoners kan ook betrek word by die dag-tot-dag werksaamhede  van die projek.

Klipheuwel Voorbereidingskool: Klaskamergeriewe is met die hulp van die omgeetrust vergroot om meer kinders te kan akkommodeer. Die skool – in ’n arm en gebroke gemeenskap – is ’n uitsonderlike instelling van uitnemendheid.

Prins Albert Voorbereidingskool: Die Sonneblomskool in Prins Albert is soortgelyk aan die een in Klipheuwel.  Die skool is opgerig en ten volle funksioneel en akkommodeer tans 130 voorskoolse kinders. Onderwysers is almal woonagtig in die gemeenskap.

Kapitaalprojek ter oorweging:

Fasiliteit vir haweloses:  Huisvesting vir haweloses is ’n al groter wordende behoefte in die groter Durbanville-omgewing en die skepping van geskikte geriewe verg dringende aandag.

Projekte wat deurlopend ondersteun word:

  • Prins Albert Voorbereidingskool: Salarisse van onderwyseresse.
  • Mavusa-voedingskema, Limpopo: Projek wat 122 kinders voed.
  • Ruyterwacht Senior Sentrum: Finansiële bydrae vir 230 bejaardes.
  • Elsiesrivier-speelskool: Verskaf produkte vir 120 kinders.
  • Zoar-sopkombuis: Voed 350 tot 400 persone, drie keer per week.
  • Echo-jeughuis: Subsidieer die huur van die fasiliteit.
  • Shiloh: Voedingsondersteuning aan TB- en vigspasiënte.
  • Heaven’s Gate-kinderhuis: Befonds elektrisiteitsgebruik.