Die Malherbes getuig van oorvloedige genade

Deur: Esmé Malherbe

Ons gesin het laas jaar ’n groot skrik, maar met ’n gelukkige einde, beleef.  Ons deel dié storie uit dankbaarheid as ’n getuienis vir die genade wat ons ontvang het.

Die langnaweek van 24 September 2021 het ons saam met familie by De Wetsbaai in Bettysbaai gekuier. Ons seun, Liam, toe 17 jaar oud, neem graag foto’s en het vroegoggend op die 25ste opgestaan om die sonsopkoms op kamera vas te vang.  Die paadjie op na die baken bo-op die berg is al vir geslagte uitgetrap en is bekend vir die familie.  Dié oggend het hy besluit om ’n ander pad te klim, aangesien hy gehoop het om ’n nuwe uitsig met die kamera vas te lê.

Die opklim was moeilik en hy het nie aanvanklik besef hoe steil hy klim nie, totdat hy later ontdek het dat hy homself vasgeklim het –  hy kon nie op of af beweeg nie.  Gelukkig kon hy ’n plek vind waar hy kon sit en het eers ’n hele tyd daar bly sit.  Ek as ma raak nog steeds emosioneel as ek nadink oor hoe alleen my kind daar op die rotswand moes voel en wat alles deur sy gedagtes moes gegaan het.   In daardie stadium was ons nog onbewus dat hy gaan foto’s neem het en nie by die huis was nie.

Toe Liam besef hy sal nie sonder hulp kan afkom nie, het hy vir Dawie (my man) gebel om hulp te vra sodat hulle saam ’n pad af kon vind. Een van die wonderwerke van daardie dag is dat hy sy selfoon by hom gehad het – die battery was gelaai en hy het data gehad – dit gebeur min!  Ons was aanvanklik nie baie bekommerd toe ons sy oproep ontvang het nie, aangesien ons almal die berg goed ken.  Maar in daardie stadium het ons nie besef hoe hoog op hy was nie.  Ek kon van die huis se stoep af sien hoe Dawie teen die berg begin stap en klim soos Liam aan hom verduidelik het.  Ek het hom nie verder dopgehou nie en is binnetoe – doodgerus dat hulle binnekort weer terug sou wees.

Kort daarna sien ek egter flitsende boodskappe op my selfoonskerm – een na die ander stemboodskappe van Liam wat sê dat hy en sy pa geval en baie seergekry het en dat ons vir hulp moet bel.

Dawie vertel dat hy tot onder die krans gekom het waar Liam vasgekeer was en toe aan hom probeer beduie het hoe om af te klim.  Liam het vatplek gesoek terwyl hy ondertoe geklim het, maar omdat daar onlangs ’n brand was, was die bossie waaraan hy vasgeklou het, nie stewig genoeg geanker nie en Dawie moes magteloos toekyk hoe Liam 15 meter ondertoe val. Met die val het Liam bo-op Dawie te lande gekom en teen die skuinste is albei toe al rollende teen die hang af.

Intussen het ek en my swaer gejaag tot by die plek waar Dawie se motor staan en self teen die berg begin opklim.  Halfpad teen die berghang vind ons toe vir Liam – nerfaf en in pyn.  Ons was bang sy been is gebreek. Dawie het erge kop- en snywonde aan sy gesig en bene gehad en het vermoed sy ribbes is gebreek.  Hy wou eerder net teen die berg afkom en ons swaer kon hom toe help. Ek het by Liam agtergebly.

Ek kon dit regkry om te midde van al die adrenalien in my are ’n noodnommer deur die internet op te spoor en kon nie glo toe ’n vriendelike stem die oproep onmiddellik beantwoord nie.  Ek kan net die spanne en personeel wat daardie dag so vinnig gereageer het, lof toeswaai.  Hulle was so behulpsaam en het my die heeltyd op hoogte gehou. ’n Sekuriteitsmaatskappy, die ambulansdienste, brandweer en die NSRI (hul was toevallig op land daardie dag) het almal opgedaag om te kom help.

Ek het begin ontspan toe die nooddienswerkers oorneem om my seun se wonde en beserings te versorg.  Die berg was te steil om die ambulans se draagbaar te kon gebruik en die NSRI het toe ’n apparaat wat soos plastiekmandjie lyk, gebruik om Liam teen die berghang af te dra.  Na skanderings, ondersoeke en ’n klompie steke, moes Dawie met sy gebreekte ribbes in Hermanus Mediclinic oornag, maar Liam is vroegaand ontslaan – nerfaf en in pyn, maar gelukkig net op krukke.

Die een ding wat ons almal van daardie dag bybly, is die angs dat die insident een of albei van hulle se lewens kon geëis het en die absolute verligting en dankbaarheid toe ons besef het dat hulle die trauma sal oorleef en kan herstel van die beserings wat hulle opgedoen het.

Die twee bergklimmers het onlangs weer die berghang vanaf ’n veilige afstand gaan betrag om te sien presies waar hulle geval het en van vooraf besef dat dit  ’n wonderwerk was dat hulle nie baie ernstiger seergekry het nie.  Sy pa was miskien Liam se matras, maar Dawie het self ’n engel as vangnet gehad.

’n Verdere positiewe wending van die storie is dat die kamerasak en al die kameratoerusting, selfone, bankkaarte en alles wat weg was, boonop net so deur ’n vriend wat na die tyd daarna gaan soek het, gevind is.

Agterna kan ’n mens ook die humor in die traumatiese gebeurtenis raaksien:

  • Dawie het ’n groot wond aan sy kuit gehad, wat ek wou verbind. Hy kon darem nog kophou en keer dat ek nie van my klere ontslae raak om dit as verbande in te span nie – Hermanus Mediclinic sou my waarskynlik nie sonder my klere toegelaat het nie.
  • Een van die nooddienswerkers wat teen die krans na ons toe geklim het, het na die petalje vir my gesê dat hy by homself gedink het dit kan nie so moeilik wees om by ons uit te kom nie, want as ék tot daar kon kom, dan moet hy dit verseker ook kan doen. Ek is nog onseker oor hoe ek die stelling moet interpreteer!

Die Malherbes sal 25 September 2021 altyd as ’n dag propvol genade en getroue, diensbare engele onthou.

| Dawie, Esmé, Liam en Joané is jare lange en aktiewe lidmate van die gemeente.  Hulle woon in Swartbergweg.