Die hart van die feesmark is die mense

Karen Visagie (links) en Lindy van Wyk de Vries (regs)  het vanjaar die groot taak aangepak om die feesmark te reël en dit boonop in die onseker en uitdagende landskap wat deur die Covid-19-pandemie geskep is.

Karen sê dat die eerste besluit wat sy en die feesmarkkomitee geneem het, was om die onkoste verbonde aan die mark so laag as moontlik te hou.  “Aan sekuriteit, personeel en die gerekenariseerde betaalsisteem by kasregisters kan ’n mens nie besnoei nie, maar ons het wel vanuit die staanspoor besluit om nie die groot tente te gebruik nie.  Ons sou buitendien nie toestemming by die munisipaliteit ontvang het om dit te mag opslaan nie en dit alleen het dus ’n besparing van R280 000 meegebring.  Die bemarking van die feesmark is ook net op gratis sosialemediaplatforms gedoen en die enigste  advertensiekoste wat aangegaan is, was om die advertensieborde aan lamppale  te heg.

“Na baie dinkwerk is die uitleg van die mark heeltemal verander en dit het ons in staat gestel om 290 uitstallers te akkommodeer, wat slegs 60 uitstallers minder was as tydens die laaste groot feesmark in 2019.  Ons het baie komplimente vir die nuwe uitleg ontvang en baie besoekers het gevra dat dit asseblief in die toekoms so behou moet word.  Alhoewel besoekers die ou restaurantarea gemis het, het sommiges weer die nuwe opsie met die kostrokke en kosstalletjies verkies.  Daar was wel versoeke vir meer gesonde etes.  Ek het klaar ’n paar planne in my agterkop oor hoe die restaurant en  aanbieding van die kosstalletjies vir volgende jaar  ingerig kan word.”

Lindy vertel weer dat dit op die eerste dag van die feesmark doller as kopaf gegaan het.  “Ons het byvoorbeeld  tussen betaalpunte rondgehardloop met kodes van produkte wat nie wou skandeer nie.  Maar na die eerste dag het dit beter begin gaan en teen die derde dag het dit begin voel alles is onder beheer en ons kon toe met gemak aan probleme wat opduik, aandag gee.  Die verkope van produkte was bo verwagting goed en uitstallers is dit almal eens dat vanjaar s’n  een van hulle mees winsgewende markte nog was.

“Van die topverkopers was kaas, kouevleisprodukte, pasteie, fudge, samoesas, gebak van die Holland Bakery en mosbolle.  Lekkernye en kositems bly maar bobaas wanneer dit kom by die items wat mense kies om in hulle mandjies te laai.  Van die uitstallers wat juwele en leerhandsakke verkoop, het ook baie goed gevaar.”

“Vandat ek nou self by die feesmark betrokke is en die uitstallers en hulle persoonlike omstandighede leer ken, verstaan ek vir die eerste keer dat hierdie feesmark nie net ’n fondsinsamlingsprojek vir die gemeente is nie, maar ’n volwaardige uitreikprojek,” sê Karen.  “Tussen die mure van hierdie sale en op ons eie kerkterrein, reik ons in werklikheid oor alle grense heen uit – hoe vreemd dit ook al mag klink.  Soveel uitstallers kry werklik swaar en vir hulle beteken die inkomste wat hulle op die mark genereer, die verskil tussen oorlewing en ondergang.

“Ek kan soveel stories opnoem –  elkeen bly vir my hartverskeurend.  Daar is byvoorbeeld die enkelma wat verlede jaar tydens die grendeltyd geskei is en desperaat kom smeek het vir ’n geleentheid om ’n paar rand te verdien.  Deur die genade het sy met die verkoop van eenvoudige roomysies wonderlike seën op haar ondernemingsgees beleef.  Dan ook die Karooboer wat met sy biltongstalletjie liggaam en siel aanmekaar probeer hou – ons verstaan tog almal Karooboere se lot.  En die oom wat op amper 80-jarige ouderdom houtspeelgoed maak en van soggens sesuur tot saans agtuur gewerk het om sy marktafel vol voorraad te hou.  Hy het met trane van dankbaarheid kom sê hy kan  omtrent nie meer voorbly met die maak van speelgoed nie.

“Dít is die hart van die feesmark.  Die spil waarom alles draai. Dit gaan oor mense en die geleentheid wat ons as gemeente het om hiér, op ons eie werf, ’n verskil in ander mense se lewens te maak.”