Die grootsaal bied skuiling teen die Kaapse storm

“Toe die stormweer ons verlede week tussen 10 en 12 Junie tref, het Stellenberg se kerkraad die moedige stap geneem om hul grootsaal as ’n tydelike nagskuiling vir 27 hawelose mense oop te stel,” sê dr. Braam Hanekom, verbonde aan die Sentrum vir Publieke Getuienis, sinodale kantoor, Wes-Kaap, “en is ons opreg dankbaar teenoor die gemeente vir dié wonderlike gesindheid.”

Die tydelike skuiling is in samewerking met MES in Bellville gereël en koördinering met die organisasie het deurlopend plaasgevind.  Uiteraard moet MES aan alle Covid-19-regulasies voldoen en sosiale distansiëring moet dus in alle skuilings toegepas word.  Die gevolg daarvan is dat bestaande skuilings minder slaapplek mag aanbied en daar dus nou ’n tekort aan slaapplek bestaan.

MES het saans die besoekers met bussies na Stellenberg se saalkompleks geneem en hulle weer soggens om 06:30 daar gaan haal.  Woensdagaand moes op karton- of plastiekmatrasse geslaap word, maar danksy ’n ruimhartige skenking is matrasse aangeskaf en kon almal Donderdag- en Vrydagaand geriefliker slaap.  Ds. Why Duvenhage het ook komberse en slaapsakke uit die gemeente se omgeestoor aangebied en Stellenberg het warm sop en brood aan die “kuiergaste” bedien.

Daar was dwarsdeur elke nag personeel en vrywilligers aan diens om toe te sien dat alles ordelik geskied en nadat die saal soggens ontruim is, is die perseel ontsmet.  Die gemeente se terreinpersoneel het ook Saterdagoggend nadat die groep vertrek het, die saal volgens die Covid-19-voorskrifte deeglik skoongemaak en ontsmet.

Dr. Hanekom sê voorts: “Dit ruk ’n mens aan die hart om dié verwese mense te sien.  Hulle is weerloos teen die elemente, om nie eens van die Covid-19-bedreiging te praat nie.  Die winter strek nog lank voor ons uit en ons doel is om ook ander gemeentes te motiveer om betrokke te raak met soortgelyke hulpverlening.  Indien almal help, raak dit nie die las van net een gemeente, of een organisasie nie.  Alle betrokkenes sal voortdurend in venootskap met MES optree.”