Deur: Ds. Marius Breytenbach
Net soos by ander instansies en besighede het die Covid-19-pandemie ook ons gemeente die afgelope jaar ingrypend geraak. Alhoewel dit ’n baie uitdagende tyd was en steeds is, het al die ervaringe van die afgelope jaar tog ook nuwe geleenthede vir ons geskep en veral opnuut insig rakende ons gemeentewaardes gebied: Om nader aan God en mekaar te leef, voortdurend te vernuwe en met ’n verskil in die wêreld te leef.
Dit het nie net nuwe en innoverende idees na vore gebring nie, maar ons ook weer herinner aan die ou en basiese aspekte van ons gemeente se verantwoordelikheid. Deur telefoonoproepe het ons probeer om met almal op ons gemeente se databasis in kontak te bly en die verskillende aanlyn bedienings het geweldig toegeneem en uitgebrei. Ons is voortdurend uitgedaag om vlugvoetig te wees. Alhoewel ons nog onseker is oor wat die res van die jaar inhou, het ons wel ’n ritme geskep wat die voortsetting van bestaande gemeenteaktiwiteite moontlik gemaak het, terwyl ons ook nuwe bedienings, wat prakties nodig geraak het, kon skep en uitbou.
Wat ons eredienste betref, het ons nou ’n patroon gevestig waarin ons die diverse behoeftes van die hele gemeente probeer akkommodeer. Daar is elke Sondag (uitgesluit langnaweke en skoolvakansies) vier eredienste wat in die kerkgebou en kapel aangebied word en ook aanlyn uitgesaai word. Die fisiese bywoning van eredienste sal na gelang van die inperkingsmaatreëls aangepas word.
Eredienste word soos volg aangebied:
08:30 Oggenddiens in die kerk | ’n Informele diens met ’n toeganklike atmosfeer.
09:00 Meditatiewe diens in die kapel | Gebed, meditasie en geleentheid vir stilword.
09:30 Familiediens in die kerk | Meer toegespits op families met laerskoolkinders.
18:00 Relevantdiens in die kerk | Gerig op tieners, studente en jongwerkendes.
Tee en koffie word na die oggenddiens in die teetuin aangebied. Na die familiediens is ouers welkom om tee en koffie in die markplein te geniet, terwyl hulle vir kinders wat kategesegroepe bywoon, wag. Covid-19-protokol sal deurgaans geld.
Die beskikbaarheid van die saalkompleks maak dit nou vir ons moontlik om junior en senior kategese in die klein- en grootsaal aan te bied.
Ons is opreg dankbaar teenoor lidmate wat ten spyte van al die onsekerhede en veranderinge wat Covid-19 veroorsaak het, steeds bereid is om by die gemeente se veranderde bediening aan te pas. Stellenberg-gemeente en sy lidmate is mos bekend vir hul vlugvoetigheid, vars idees en aanpasbaarheid.