Die eerste uitreik van 2020 is op pad na Vosburg

Stellenberg-gemeente en die NG kerk Onrusrivier pak vanaf 25 tot 31 Oktober gesamentlik ‘n uitreik na Vosburg aan.  Volgens ds. Why Duvenhage,  wat Vosburg onlangs besoek het, gaan dit nog baie swaar met die mense in dié gemeenskap.  Groot gedeeltes van die streek gaan steeds onder erge droogte gebuk en werkloosheid en verwante maatskaplike probleme is deurentyd aan die orde van die dag.

“Daar is darem een ligpunt in die kontrei en dit is die bakkery wat ons verlede jaar in samewerking met gemeenskapslede gevestig het.  Die bakkery gaan van krag tot krag en het werklik ‘n positiewe invloed op die dorp en sy mense,” sê ds. Why Duvenhage.

Stellenberg-gemeente se Vosburg-komitee het ook op Vrydag 2 Oktober wegneemetes ten bate van die Vosburg-gemeente verkoop en was baie dankbaar toe hulle daarin kon slaag om R31 000 in te vorder en aan die gemeente kon skenk. 

Ons gebede vergesel die uitreikspan en ons vertrou dat die liefde van Christus die mense van die omgewing met nuwe moed en hoop sal vul.