Deur: Christo Augustyn
Met die eerste aankondiging en die uitbraak van Covid-19 was ons aanvanklike kommentaar en oningeligte opinie: “A storm in a tea-cup”. Natuurlik het die oorvloed van informasie en feite wat daarop gevolg het, ons aanvanklike mening vinnig nek omgedraai. Soos ons almal nou reeds weet, en self aan die lyf begin voel het, het die storm al sterker geword en steeds woed dié lewensbedreigende plaag voort.
Ons gesin en vriende het dikwels oor onrus, opstande, betogings, veiligheid, inbrake, ongeneeslike siektes en die algemene verskynsel van die dood in ons land gesels. My vrou is al in Kaapstad aangeval, my skoonsuster is in haar skool aangehou, maar meer direk en nader as dit, was ons nog nooit werklik beproef nie. Maar toe word ons deur die gedaante van die Covid-19-gedrog getref. Min het ons geweet dat dit nie net iets is wat ons op die nuus, of in die koerant, of in die doodsberigte sou hoor en lees nie, maar dat dit ook ons gesin se lewens regstreeks sou affekteer. Voordat die plaag ons gesin getref het, het dit reeds die lewe van miljoene ander mense oor die wêreld heen onherroeplik verander en ek glo in miljoene gevalle was die ervaring nog baie meer traumaties as ons s’n.
Die onverantwoordelikheid en ongehoorsaamheid van vele mense rondom ons wat weier om die basiese voorskrifte en voorsorgmaatreëls na te kom, het ons erg vertoorn. As gesin het ons getrou saniteermiddel gespuit, hande gewas, maskers gedra, pakkies ontsmet en ’n gedwonge kluisenaarsbestaan begin voer. Maar een klein glips het tot gevolg gehad dat ons al vier op 21 Desember 2020 Covid-19-simptome begin toon het. My pa is vroeër in 2020 oorlede en ons lank reeds beplande en kosbare Familiekersfees saam met die oorblywende twintig nabye familielede, moes toe summier gestop word en ons lewens het in die daaropvolgende ses weke drasties verander: Covid-19 het aan ons deur kom klop.
Die twee kinders het vinnig herstel, terwyl my en my vrou se simptome erger en meer langdurig was. Intussen het my skoonouers, beide 85 jaar oud en inwoners van Edelweiss Dienssentrum, ook siek geraak. Dit was moeilik om hulle fisiese toestand te monitor, aangesien geen besoeke by die tehuis toegelaat word nie. Ons kon net telefonies kontak maak. Op 30 Desember het ons besluit om vir Ouma te gaan haal en tuis na haar om te sien met medikasie, suurstof en die hulp van versorgers.
Op 31 Desember moes ek egter in die hospitaal opgeneem word. Wat daarna gevolg het, is die storie van menige voor en na ons. Ek was vir ’n totaal van 18 dae in die hospitaal waarvan 12 in die intensiewesorgeenheid was. My gesin kon my uiteraard glad nie besoek nie en hulle moes magteloos tuis wag en bid. Die hartverskeurende stories van mense wat saam met my in die hospitaal was, is enorm en eenvoudig onbeskryflik. Al wat ek daarvan kon oorhou, is bloot ’n diepe dankbaarheid.
Oupa het goed herstel – of so het ons gedink, maar op 3 Januarie moes hy ook in die hospitaal opgeneem word waar hy vir 12 dae versorg is. Die hospitaalverblyf was vir hom en vir ons erg traumaties. Die familielede kon net deur die hospitaalvenster vir hom waai.
Op 15 Januarie 2021 is Oupa ontslaan en ek op 16 Januarie. Ons het ’n kosbare naweek vol liefde saam deurgebring totdat Oupa skielik op 18 Januarie oorlede is. Ons vier gesinslede was deur die genade by hom en kon hom afsien op sy nuwe reis – ek nog gekoppel aan ’n mobiele suurstofeenheid . . . en daar verlaat hy die wêreld sonder suurstof.
Ek hang sedert 30 Desember 2020 steeds 24 uur van die dag aan ’n suurstofpyp. Maar ons is dankbaar teenoor ons Liewe Vader en Mediclinic, die versorging in die intensiewe-eenheid en die gewone hospitaalsaal, asook teenoor elke werker in die gesondheidsektor. Ook vir die feit dat ek ontslaan is en die voorreg het om ’n rehabilitasieproses te deurloop.
So ja, vandag is ons die hartseer, maar terselfdertyd ook die dankbare Augustyn-familie, wat baie seëninge ontvang het nadat ons die harde werklikheid van Covid-19 eerstehands aan ons lywe gevoel het.
Die oorvloed van onverdiende liefde, ondersteuning, hulp, raad, bystand, gebede en genade van die Vader maak ons baie nederig en bevoorreg.
Groetnis.
Christo
| Christo en Belinda Augustyn woon in Burenstraat 10 en is reeds sedert 2003 lidmate van Stellenberg-gemeente. Christo is ’n apteker van beroep en Belinda ’n mediese dokter. Hulle kinders David en Ellen is beide studente. Belinda se ma, Elsa, is ’n inwoner van Edelweiss Dienssentrum en ook ’n lidmaat van die gemeente.