Danie Claassen het oor 27 jaar heen op die fondsekommissie gedien en was die grootste deel van sy dienstermyn boonop voorsitter van die kommissie. Stellenberger het met hom gesels oor sy prysenswaardige betrokkenheid in die gemeente. Danie en sy vrou, Carina, is sedert 1995 lidmate van die gemeente en hulle kinders, Anene en Daniel, het beide in die gemeente grootgeword.
- Ongeveer hoe oud was julle kinders toe julle by Stellenberg-gemeente ingeskakel het? Anene was vier jaar oud en Daniel twee jaar oud toe ons na Eversdal verhuis het. Ons woon steeds in dieselfde huis waar ons toe ingetrek het.
- Wat onthou julle van daardie tyd in die gemeente? Ons het vanuit die staanspoor net baie tuis in die gemeente gevoel. Ds. Koosie Delport was ons wykspredikant en Noelinesingel en Loreleiweg was baie aktiewe en betrokke wyke in die gemeente. Dit voel soos gister dat sowat 15 kinders uit Noelinesingel elke oggend die paadjie na Laerskool Eversdal te voet aangepak het.
- Wanneer het jy by die gemeente se fondsekommissie betrokke geraak? Ek is gedurende 1995 as diaken vir ons wyk, met Gawie Eksteen as ouderling, verkies en is toe kort daarna by die finansies betrek. Ds. Bremer Gericke was destyds vir die kommissie verantwoordelik. In daardie dae het ons nog die kleinsaal tydens ’n kerkraadsvergadering vol gesit!
- Om vir soveel jaar voorsitter van finansies te wees beteken baie opoffering wat tyd en energie betref. Wat het jou gemotiveer om op die wyse by die gemeente betrokke te bly? Ek dien al sowat 27 jaar op die komitee, waarvan die grootste deel as voorsitter, maar is tussendeur, vir ongeveer nege jaar, ook deur Marius Saayman afgelos. Dit was vir my ’n groot voorreg om die gemeente op dié wyse te kon dien. My taak is vergemaklik deur die betrokkenheid van ds. Callie Visagie, wat vir baie jare die verantwoordelike predikant vir fondse was, asook Marguerite Bester, wat voorheen die finansiële bestuurder van die gemeente was. Die oop hande en harte van lidmate en ’n kerkraad wat nog altyd verantwoordelik en met afhanklikheid van die Here die beskikbare fondse aangewend het, was ’n deurlopende seëning. Stellenberg-gemeente is werklik geseënd en bevoorreg om met die bronne tot ons beskikking weer vir ander tot seën te wees.
- Die Covid-19-pandemie het ’n groot impak op kerke se finansiële funksionering gehad en daar is gemeentes wat die pandemie finansieel nie oorleef het nie. As gemeente is ons dankbaar vir die leiding wat ons fondsekommissie in daardie tyd gebied het. Hoe het die pandemie julle beplanning geraak? Ons het redelik vroeg in die pandemie besef dat daar ’n baie goeie kans is dat die feesmark nie sou plaasvind nie en moes noodgedwonge moeilike besluite neem ten opsigte van die bestuur van ons uitgawes, o.a. deur ’n tydelike vermindering in personeelsalarisse. Dit was vir my verblydend om te beleef hoe goed hierdie stappe deur die personeel ontvang is en ook hoe lidmate voortgegaan het om getroue rentmeesters te bly – al die eer aan die Here wat gesorg het!
- Aan wie gee jy die leisels by die fondsekommissie oor? Marius Saayman het ingestem om tydelik in te staan en daar is nuwe lede op die komitee wat mettertyd sal oorneem. Solank ek kan, sal ek graag nog betrokke wil bly.
- Vertel ons ’n bietjie meer van die Claassens en julle voorliefde vir sport. Carina en ek is al 35 jaar getroud. Ons het die voorreg gehad om saam ’n paar marathons te voltooi, waarvan twee ook Comrades-marathons was, een opdraand en een afdraand. Saam met die fietsryers in Noelinesingel het ons ook ’n paar Kaapstad-fietstoere afgelê. Ek kon Carina nog nie oortuig om gholf te speel nie, maar danksy jare lange vriendskappe wat in Noelinesingel gesmee is, het ek darem spanmaats byderhand wanneer ek gholf wil speel. Ek en Carina het oor die jare heen slimmer geword en stap nou eerder, maar ons twee kinders sit die voorliefde vir hardloop voort – Anene op die pad en Daniel in die berge.
- Ek vermoed jy het meer diensjare by Sanlam as by die gemeente. Hoe lank is jy reeds daar in jou pos en beoog jy om ook binnekort daar uit te tree? Ek werk al 30 jaar by Sanlam en het nog ’n paar jaar om te gaan voor ek die amptelike aftreeouderdom bereik – in hierdie stadium dink ek meer aan afskaal as aftree, want ek geniet dit om te werk.
- Indien werkverpligtinge verminder, waaraan sou julle graag meer tyd wou afstaan? Is daar items op ’n emmerskoplysie wat aandag gaan kry? My ideaal sou wees om drie dae per week te werk, een dag aan die gemeenskap af te staan en nog boonop elke week ’n langnaweek te neem. As gevolg van ’n besering kan ek nie meer hardloop nie, maar daar is nog ’n hele paar gholfbane wat ek graag wil besoek en waarop ek graag ’n rondte wil speel. Ek en Carina geniet dit om te reis en in die natuur te stap – ’n berg en die see hou altyd vir ons bekoring in.
- Watter gemeenteaktiwiteite geniet julle die meeste? Alhoewel ek soveel jare lank by die finansies van die gemeente betrokke was, was die hoogtepunt egter vir my die voorreg om saam met my kinders hulle geloofspad in die gemeente te kon stap – by die Sondagskool, die kampe en later ook die uitreike. Dit was kosbare oomblikke wat ek vir niks sal verruil nie en ek wil alle ouers aanmoedig om op hierdie wyse by hulle kinders se geloofsvorming betrokke te raak.
Danie se kundigheid, temperament en toewyding was oor die jare heen vir die gemeente van onskatbare waarde. Ons is opreg dankbaar teenoor hom vir die tyd en energie wat hy aan die gemeente afgestaan het, asook teenoor Carina en die kinders dat hulle bereid was dat Danie sy tyd met ons kon deel. Dankie, Danie! | Marius Breytenbach