Dagstuk | Woensdag 6 Desember 2023

Vandag is Woensdag 6 Desember en hierdie week is ons tema: Adventskrans, waar ons nadink oor die nuwe kerklike seisoen waarbinne ons beweeg. Die Adventskrans is ‘n gebruik wat in die 16de eeu by Lutherane sowel as Katolieke in Duitsland begin het. Daarmee word Advent ingelei, die seisoen waarin Christene hulleself geestelik voorberei om die koms van Jesus Christus met Kersfees te vier.

Ons het met ons Kerssangdiens die mooiste Adventskrans gemaak wat vir die volgende paar weke tot Kersdag in die liturgiese ruimte teen die muur gaan hang. Die Adventskrans is ‘n sirkelvormige krans met immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Gewoonlik as die krans plat lê word daar vier of vyf kerse gerangskik. Vier Sondae voor Kersfees begin die seisoen van Advent en word elke week een kers op die krans aangesteek. Elke kers verteenwoordig ‘n aspek van die geestelike voorbereiding op die koms van Christus.

Vandag reflekteer ons oor ons 3de kers – VREUGDE

Die derde kers is pienk en simboliseer vreugde. Dit word die “Skaapwagters Kers” genoem en is pienk omdat dit die liturgiese kleur vir vreugde is. Dit herinner ons aan die vreugde wat die herders op die velde ervaar het.

‘n Vers wat die boodskap van hierdie vreugde-kers raakvat is in Lukas 1:44 met Johannes die Doper se reaksie op Jesus:

“Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.”

Gebed: Here, ons loof en prys U vir die groot blydskap wat die herders ervaar het toe hulle die Verlosser sien. Mag ons harte ook oorstroom word met blydskap as ons die betekenis van u koms vier. Help ons om die vreugde van Christus met ander te deel en ‘n lig vir die wêreld te wees.

Amen.