Dagstuk | Woensdag 3 April 2024

Vandag se tema: Saam is ons beter en maak ‘n verskil.

1 Korintiërs 12:7 & 11. Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Maar al hierdie dinge is die werking van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.

In my kinderjare het ons altyd tydens pouse sokker gespeel en dan twee spanne op die volgende wyse verkies. Die sterkste twee spelers is as kapteins aangewys waarna elkeen om die beurt geleentheid gekry het om die beste span saam te stel. Die outjies met talent wat doele kon aanteken is altyd eerste gekies en daarna die wat goed kon verdedig. Die laastes wat oorgebly het was dié met min of geen balvaardighede. Hulle het ook min kans gehad om te verbeter, want die bal is selde na hulle toe aangegee en moes meer geneë wees om agter die res aan te drentel. In die grootmens wêreld geld dieselfde beginsel steeds. Ons beoordeel mense op verskillende vlakke en tree daarvolgens teenoor hulle op. Die Here het bewustelik anders gekies toe Hy aan elkeen afsonderlik ‘n werking van die Gees gegee het wat tot voordeel van almal benut moet word. Nie op ons eie nie, maar saam is ons beter en maak ons ‘n verskil. Hoe praat hierdie gedeelte vandag met ons oor die mense saam met wie ons saamleef asook die wyse waarop ons ‘n verskil in die wêreld kan maak? Vandag se teks daag ons uit om die seën van diversiteit wat die Here in die kerk ingebou het te ontsluit en vanuit die seën daarvan te leef. Jou vriende kan jy kies, maar die mense wat elke dag oor jou pad kom is ‘n geskenk van God.

Gebed

O God, rus my vandag toe met eienskappe wat iets in my sal laat deurskemer van u lewe in my: die nederigheid wat my sal weerhou van verwaandheid en misplaaste trots; die grasie en sagtheid wat dit vir mense makliker sal maak om met my saam te leef; die toewyding en betroubaarheid wat van my ‘n goeie kollega en werknemer sal maak; die deernis en hulpvaardigheid wat vinnig sal raaksien waar en hoe ek ander kan help; die voortdurende bewussyn van u teenwoordigheid, sodat ek regtig ales sal doen soos vir U.