Dagstuk | Woensdag 27 Desember 2023

In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Matteus 1:23 

23“Kyk, die maagd sal swanger word 

en ‘n seun in die wêreld bring, 

en hulle sal Hom Immanuel noem” – 

wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’ 

Refleksie 

Die goeie nuus van die geboorte van Jesus is dat God kies om teenwoordig te wees in die wêreld.  

Die klassieke wêreldbeeld in die Ou Nabye Ooste het gepraat van die wêreld as drie dele: die hemele, daar vêr bo, die goddelike ruim waar engele en God self woon. Die aarde in die middel, waarop mense en diere en plante woon en die doderyk, of die onderwêreld, daar onder. In hierdie wêreldbeeld is God vêr van alles wat op aarde gebeur. Hoewel daar ontmoetings met God kan wees en hoewel God die lewe op aarde kan beïnvloed, is die huis van God in die hemele daar bo – vêr van al die swaarkry, hartseer, verwoesting en selfs vêr van die liefde en vreugde wat mense beleef. 

Matteus bring vir ons die goeie nuus dat God nie vêr van die wêreld af is nie – God kies om in Jesus, as ’n klein kindjie gebore te word en tussen ons te woon. Jesus is Immanuel – God met ons. Of, om Openbaring te parafraseer: die huis van God in nie meer in die hemel daarbo nie, die huis van God is nou by die mense. 

God is hier. 

Reflekteer vandag oor God se teenwoordigheid in jou lewe. Beleef jy vir God as Immanuel, as God by ons? Hoe vêr of hoe naby voel God vandag vir jou? 

Hoeveel mense het waarskynlik met Jesus te doen gekry, verby Hom gestap, sonder om te besef dat Hy God se teenwoordigheid dra en tussen hulle beweeg? Dalk beleef ons soms ook God as afwesig. Dalk is dit juis in daardie tye wat Jesus besig is om tussen ons te beweeg, maar ons besef dit nie. 

Die goeie nuus is: selfs wanneer ons dit nie besef nie, is Jesus steeds besig om tussen ons te beweeg as Immanuel – God by ons. 

 

Gebed 

Here, ons wens so maklik om verwyder te word van die pyn en die seer van die werklikheid. Maar U kies om mens te word en naby aan die gebrokenheid te leef. Dankie, dat ons kan weet dat U God by ons is. Dat U teenwoordig is. Help ons om ook teenwoordig te wees, juis waar daar seer en pyn is. 

Amen.