Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.
2 Korintiers 4:6-7. God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. 7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
Refleksie
Die wetenskap leer ons dat ons almal van sterre-stof gemaak is. Dat die partikels waaruit ons bestaan, gevorm is in die hart van ’n ster. Die partikels waaruit jy bestaan, bestaan al van die begin af. Jy is ouer as wat jy dink. Amper in dieselfde manier, herinner Paulus ons dat dieselfde lig van Christus in ons leef, wat van die begin af teenwoordig is.
Ons kan maklik leef asof hierdie lig ons eie is, asof die heerlikheid aan ons behoort. Paulus herinner ons dat die lig wat in ons is, nie ons eie is nie, maar dat die heerlikheid aan God behoort.
Ons word ook herinner dat hierdie lig, die skat, gebêre word in kleipotte wat maklik breek. Ons probeer so dikwels ons breekbaarheid wegsteek. Ons probeer ons krake toe plak. Ek wonder of ons nie in die proses dan ook die skat wat binne ons is wegsteek nie.
Dalk is dit juis wanneer ons, soos Paulus, eerlik is oor ons eie broosheid en gebrokenheid, wanneer die skat binne ons sigbaar word. Dalk is dit juis deur die krake in ons lewens, wat God se lig helder skyn.
Mag ons leer om ons broosheid te omhels en eerlik te wees oor die krake in ons lewens, sodat God se lig deur die krake van ons lewens kan skyn.
Gebed
Here, dankie dat U ons bevry van die dryf om perfek te wees. Help ons om die broosheid van die lewe te erken en te omhels, sodat U lig wat in ons skyn, sigbaar kan word. Mag almal sien dat ons nie uit ons eie skyn nie, maar dat U lig, wat van die begin van die wêreld af skyn, in ons skyn.
Amen.