Dagstuk | Woensdag 18 Januarie 2022

 

Ons teksgedeelte kom vandag uit Lukas 24. Die gedeelte vertel van Jesus se verskyning aan die Emmausgangers kort na sy opstanding.

Lukas 24:28-30.  Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.

Iemand het hierdie ou Nederlandse kerk gebed neergeskryf wat ek graag vir julle wil voorlees:

Bly by ons, Heer want dit wil aand word en die dag is byna verby.

Bly by ons en by alle mense.

Bly by ons in die aand van die dag, in die aand van die lewe, in die aand van hierdie wêreld.

Bly by ons met u genade en goedheid, met u Woord en sakramente, met u troos en seën.

Bly by ons ook in die nag van droefheid en vrees, die nag van twyfel en aanvegting, die nag van die bittere dood.

Bly by ons en by al u ander kinders in tyd en ewigheid.

Amen