Dagstuk | Woensdag 10 Januarie 2024

https://youtu.be/W7afoLi0QwI

 

Vandag is Woensdag 10 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons noem Epifanie. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoedat mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm. Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:

Soek God se leiding in alles

Bybelteks: Spreuke 3:5-6

“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Wysheid: Wees Teenwoordig. Leer om teenwoordig te wees in elke oomblik van jou lewe. Fokus op die huidige oomblik, waardeer dit, en laat nie die beslommernisse van die verlede of die sorge oor die toekoms jou van die hede beroof nie. Hou dus jou oë gevestig op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Soos spreuke sê: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” God het mens geword en tussen ons kom woon. Raak dus so aan die begin van die jaar diep bewus van die Gees van God wat jou kom bewoon.

Gebed: Here, ek plaas my vertroue in U. Lei my in hierdie nuwe jaar in. Help my om U te ken in elke aspek van my lewe, en maak my paaie gelyk volgens U wil. Lei my weë Here, ek bring die jaar voor U aangesig. Leef my deur U Gees, en lei my op die pad van waarheid en geregtigheid. Help my om U wil te verstaan en daarna te leef en te streef. Amen.