Dagstuk | Vrydag 29 Desember 2023

In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Miga 5:1 

1 “Maar jy, Betlehem-Efrata, 

al is jy gering in die streke 

van Juda, 

uit jou sal daar vir My iemand kom 

om ‘n heerser te wees in Israel. 

Sy oorsprong is 

uit die verre verlede, 

uit die dae van weleer. ” 

Refleksie 

Miga sien verlossing kom uit die onwaarskynlikste bron – ’n klein geringe deel van Juda. ’n Onbelangrike plek. ’n Mens sou verwag dat die redding uit Jerusalem sou kom, nie uit Bethlehem nie. En daarom het ’n klomp mense nie eers raakgesien wat aan die gebeur is nie en selfs oor Jesus opgemerk: “kan daar iets goeds uit Nasaret kom?” 

Wat beteken dit vir jou dat God juis ’n skynbare onbelangrike plek gebruik om verlossing te bring? Hoe het God in jou lewe al op onwaarskynlike plekke sigbaar geword? 

Toe Jesus in die openbaar begin optree, het Hy Homself ook nie omring deur belangrike mense of in belangrike plekke rondgehang nie – inteendeel, Jesus het homself omring met die onbelangrike mense wat deur die samelewing uitgestoot is en Hy het op plekke beweeg wat ander doelbewus vermy het. 

JRR Tolkien, wat diep geïnspireer is deur die Christelike verhaal, skryf in een van sy verhale:  

“Many are the strange chances of the world, and help oft shall come from the hands of the weak when the Wise falter.” 

Raak vandag bewus van die misterie van God se teenwoordigheid in onwaarskynlike plekke en in onwaarskynlike mense. Raak bewus van hoe God die God van die eenvoudige en alledaagse is en hoe God, deur ’n geboorte van ’n kind in ’n geringe dorpie, redding vir die hele wêreld kan bring. 

Gebed 

Here, ons skryf so maklik mense of plekke af as onbelangrik. Maar U gebruik juis die onbelangrike as die heel belangrikste. U herinner ons dat, wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, sal eerste wees. Mag ons hierdie waarheid beliggaam, soos wat Jesus Christus dit beliggaam. 

Amen.