Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.
Matteus 5:14-16
14“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Refleksie
Jesus maak ons hier bewus van ’n eenvoudige waarheid oor lig: ’n Lig skyn nie terwille van die lig nie, maar ter wille van ander.
Wanneer ons ’n kers of ’n lig aansteek, is die lig self mooi, maar die doel van die lig is nie om aandag op die lig te vestig nie, maar om lig te gee aan die vertrek, sodat ons alles anders beter kan sien.
Ons verstaan Jesus se woorde, dat ons ons lig moet laat skyn dikwels as – ons moet so leef dat ander mense ons raaksien. Ons moet goeie Christene wees waarna ander mense kan opkyk. Ek dink Jesus sê juis die teenoorgestelde. Ons moet nie so leef dat ander na ons kyk en sal sê: kyk hoe mooi is daardie lig nie. Ons moet so leef dat ons ander mense se lewens verlig en hulle help om alles anders beter te sien. Die lig wat ons laat skyn, is nie sodat ander ons kan sien nie, maar juis sodat ander alles anders beter kan sien en vir God kan raaksien in hul lewens en in die wêreld rondom hulle.
Mag ons lig so skyn, dat ons ander help om vir God te sien.
Gebed
Here, help ons om ’n lig te wees wat ander help om te sien. Mag ons nie skyn sodat ander ons moet raaksien nie, maar juis sodat hulle alles anders kan raaksien.
Amen.