Dagstuk | Vrydag 22 Desember 2023

Matteus 13:10. Die dissipels het vir Jesus kom vra: Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?

Gelykenisse was stories wat gebaseer was op menslike gebeure en wat die aanhoorders aangespoor het om dieper oor hulle praktiese lewens na te dink. Of die gebeure gebaseer was op ware verhale en of Jesus fiktiewe stories vertel is onseker. Daar is wel aanduidings dat die basis van hierdie gelykenisse op werklike sosiale en politieke gebeure geskoei was. Sommige gelykenisse is deur Jesus uitgelê, terwyl die betekenis van ander dikwels die dissipels laat kopkrap het. Die Bybel sê dat wanneer Jesus mense geleer het, het hy altyd gelykenisse gebruik. Dit was in kontras met die gebruiklike godsdienstige tradisie waarin die Wet van Moses die basis van alle lering was. Waarom kies Jesus gelykenisse? Waarom praat Hy nie reguit en duidelik met ons oor die dinge waaroor ons met mekaar oor stry en wat ons sukkel om te verstaan nie? Jesus se dissipels het dieselfde vraag gevra. Jesus het die beperktheid van die Wet van Moses verstaan. Dit het net tot die Joodse bevolking gespreek en nie antwoorde op alle vrae en uitdagings gebied nie. Die doel daarvan was om gedrag te beperk. Deur gelykenisse nooi Jesus ons om deur alledaagse menslike gebeure te vind dat God in ons hede werksaam is – dit het dikwels nie net een betekenis gehad nie. Dit is tydloos en grensloos en spoor ons aan om dieper oor God in ons omstandighede na te dink. Dit leer ons dat elke tyd en omstandigheid van ons ‘n dieper reaksie vra as om net ‘n wet toe te pas. Mag ons in hierdie tyd waarin ons God se nabyheid vier dit weer opnuut ontdek.

Gebed

Heilige God, Skepper van alles wat bestaan. U wat gedurig besig is om die gesig van die wêreld te verander, verander ook ons. Laat U kreatiewe energie gedurig in my lewe invloei as ek oor U nadink om so die lewe wat U ons mee seën vir onsself en ander oop te breek. Dankie dat U woorde vir mens in alle tye en omstandighede aktueel sal bly, omdat U tot deur en tot ons menswees spreek. Help ons om in vandag se gebeure dieper as die voorhand liggende te kyk en verder as net ‘n reël te sien. Wys my die wonder van nuwe lewe wat in my dag ontvou en hoe ek die geleentheid daarvan kan aangryp.

Amen.