Dagstuk | Vrydag 17 Mei 2024

Vandag is Vrydag 17 Mei en ons reis die week saam oor hoe ons as God se kinders kan lewe met die Heilige Gees binne ons.

Ons het deur die week gehoor dat ons nie meer na die tabernakel of na die tempel hoef te reis om God se teenwoordigheid te ervaar nie, maar dat ons na mekaar kan draai en bymekaar van God kan leer. Ons het ook geleer dat elkeen van ons ’n gawe en talent van God ontvang het wat ons saam met mekaar en saam met God kan gebruik om Sy Koninkryk op aarde te bou. Ons het nagedink oor die vrugte van die gees en dat dit beteken dat ons in Jesus se voetspore moet volg. Gister het ons onsself weer herinner dat omdat ons die Heilige Gees in ons harte het, het ons die verantwoordelikheid om die Goeie Nuus, die Evangelie van God, aan mense te verkondig en dat ons dit deur dade kan doen.  Vandag gaan ons leer hoe om met die liefde van God te lewe. Die Here het aan ons die Heilige Gees gegee as ’n gids om ons op die regte pad te hou en te help om in die voetspore van Jesus te loop.

 Kom ons lees 1 Korintiërs 13:4-7:

4Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Paulus het hierdie teks geskryf om vir mense te vertel wat liefde regtig behels. Liefde is geduldig, dit is vriendelik, dit is diep, dit staan op teen onreg en praat die waarheid. Jesus het vir ons op aarde kom wys hoe God wil hê ons moet lewe en hoe ons dus ander mense met liefde en genade moet hanteer en omdat ons die Heilige Gees in ons harte het, moet ons na Hom luister.  Die Heilige Gees is daar om ons op die regte pad te hou en ons te lei om in Jesus se voetspore te loop en mense met dieselfde liefde en respek te behandel soos Jesus ander mense behandel het. 1 Korintiërs 13:4-7 help ons om te besef dat liefde baie meer vereis as om te sê ons is lief vir iemand, dit behels dat ons in ongemaklike omstandighede inbeweeg waar ons vriendelik en geduldig moet teenoor mekaar moet wees, al is dit moeilik. Ons moet op staan teen die onreg wat by die werk, skool of ander enige plek voorkom, om mense te vergewe en om met nederigheid op te tree. Liefde beteken om werklik in Jesus se voetspore te loop, al is dit moeilik.

Moeder Teresa het geskryf: If we have no peace, it is because we have forgotten that we belong to each other.

Moeder Teresa sê dat ons moet ten alle tye moet onthou dat ons almal deel vorm van een familie van God, deel van een Liggaam van Christus en dat ons mekaar moet hanteer met dieselfe liefde as wat jy jou eie familielede hanteer.

Kom ons bid saam:

Here dankie vir alles wat U vir ons doen. Dankie dat U die Heilige Gees vir ons gegee het sodat ons kan weet dat ons nooit alleen is nie en Here lei ons om op die regte pad te bly en om orals u liefde en genade te hanteer.

Amen