Hierdie week stap ons ’n pad met die gedagte van ’n pelgrimstog. Die afgelope week het ’n groep mense van Stellenberg-gemeente en Klipheuwel saam op ’n staptog in die Outeniqua berge gegaan. Hierdie staptog is ingerig as ’n pelgrimstog, waar ons doelbewus op reis gaan om nader aan mekaar en nader aan God te kom. Elke dag in hierdie week staan ons stil by ’n ander teksvers rondom “op pad” wees.
Johannes 3:3-4
Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan.
Refleksie
Ons lees maklik verby hierdie kort versie in Johannes. Jesus moes deur Samaria gaan. Ons neem aan dat Jesus nie ’n ander keuse gehad het nie, maar dat dit ’n geografiese noodsaaklikheid was om deur Samaria te gaan wanneer jy tussen Judea en Galilea reis.
Dit is so dat die korste, vinnigste pad jou deur Samaria sou neem, maar daar was ’n ander pad ook, wat ’n dagreis langer was en moeiliker was om te stap, maar wat ’n klomp Jode verkies het om te stap, juis omdat hulle Samaria wou vermy. Die Jode en Samaritane het nie gemaklik om dieselfde kampvuur gesit nie en daarom sou ’n klomp Jode uit hul pad uit gaan om nie deur Samaria te gaan nie.
Wat is daar in jou lewe wat jy doelbewus vermy? Dalk is daar ’n verhouding wat vir jou ongemaklik is en jy praat doelbewus nie met daardie persoon nie. Of dalk is daar selfs ’n groep mense met wie jy nie meng nie, of plekke waardeur jy nie wil ry nie, of nie by wil stilhou nie.
Jesus moes deur Samaria gaan.
Later in die verhaal word dit duidelik hoekom Jesus deur Samaria moes gaan en dit is duidelik dat dit nie net is omdat dit die kortste pad was nie, maar omdat Jesus juis gekom het om herstel te bring in ons stukkende wêreld. Daarom word Jesus juis geroep na plekke wat ander mense vermy.
As jy een van Jesus se dissipels was, sou jy saam met hom moes stap na daardie plek wat jy eintlik wil vermy.
As jy dit hoor, waarheen nooi Jesus jou vandag om Hom te volg? Dalk is dit ’n plek in jou eie lewe wat jy eerder wil vermy, dalk is dit ’n verhouding wat skade gely het, of dalk is dit om te begin praat met iemand wat deel is van ’n groep mense met wie jy nog nooit wou meng nie.
Mag ons reis ons neem na die plekke waar Jesus gaan, selfs en veral na die plekke wat ons eerder wil vermy.
Gebed
Here, maak ons bewus van die plekke of mense in ons gedagtes wat ons eerder wil vermy en help ons om vir Jesus te volg waar ook al Hy ons lei, ook na die plekke en mense wat ons eerder sou wou vermy. Help ons om veral daar, herstel te bring in ons stukkende wêreld.
Amen.