Jesaja 43:18-19. Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. 19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
Refleksie
Vandag staan ons stil by die woord nuut. ’n Goeie vriend en kollega, met ’n passie vir roei, het met my die wysheid gedeel wat hy op die rivier geleer het: ’n rivier vloei net in een rigting. Wanneer jy in ’n rivier is, is daar net een opsie – en dit is vorentoe. As jy wil teruggaan, of selfs op een plek wil bly, gaan jy vinnig uitgeput raak. Die lewe werk ook so. Ons kan wens om terug te gaan of om tyd te laat stilstaan, maar tyd vat ons net in een rigting – en dit is vorentoe. Dit is goed om mooi herinneringe van die verlede te hê, maar soms kan dit maklik wees om ons te verloor in ons verlede se foute of teleurstellings, of selfs ’n herinnering van die sogenaamde goeie ou dae. Hierdie versie herinner ons dat God ‘n nuwe ding doen en dat Hy die pad in die toekoms vir ons sal baan. Die Here sê Hy is besig om nuut te maak, om iets nuuts te laat gebeur – in die wêreld, maar ook in ons.
Neem vandag ’n oomblik om saam met die Here hieroor te reflekteer. Beplan die Here iets nuuts vir jou of vir ons samelewing vir 2023? Waar kry jy die gevoel wil die Here nuwe lewe in jou lewe bring? Waar is daar ’n woestyn, wat die Here weer in ’n rivier wil verander?
As ’n uitdaging, beplan om hierdie week iets nuut te begin, wat jy nog nooit vantevore gedoen of aangepak het nie.
Gebed
Here, ons dra so dikwels swaar aan die verlede. Aan die trauma van seerkry, maar ook aan die terugdeins na mooi dinge wat verby is. Here, herinner ons dat U iets nuuts wil doen in 2023 – ook in ons lewens. Help ons om bewus te word van die woestyn in ons eie lewens en laat daar ook riviere van lewende water uitspruit, waar ander ook kan kom rus vind.
Amen