Dagstuk | Saterdag 28 Oktober 2023

Psalm 46 (dit is net ’n uittreksel, lees gerus die hele Psalm self deur). God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting. 

Môre vier kerke reg oor die wêreld Reformasiesondag. Dit was ‘n beweging wat mense soos Martin Luther, aangespoor het om nie net die kerk nie, maar die wêreld waarin hulle geleef het te verander. Psalm 46 het vir Luther besondere betekenis gehad en hy het ’n lied daaroor geskryf wat in ons eie liedboek opgeneem is. Lied 476, ’n Vaste burg is onse God. Luther het blykbaar in sy donkerste tye gelowiges om hom uitgenooi om die lied te sing en dan die kwaad uit te daag om sy bes te probeer. In die afgelope week, waarin ons elke dag oor die konflik in Israel en Palestina nagedink het, het die omvang van die vernietiging dramaties gegroei. Die ervaring wat dit ’n mens mee laat is verslaentheid. Dit is nie meer maklik om die grens tussen goed en kwaad te tref nie, omdat alle reaksies besig is om op ’n groot katastrofe af te stuur. Hoe gaan mense op ’n plek kom om hierdie siklus waarin kwaad duidelik oorheers te breek?

Die Protestantse Reformasie van 1517 was ’n breek van .n nimmer eindigende siklus van gebeure wat Europeërs die Donker Eeue genoem het. Dit het vir mense gevoel of hulle niks kan doen aan die kwaad waarin hulle vasgevang geleef het nie en gelowiges het gedink dat dit die einde van alles is. Die enigste uitweg was om te vertrou dat God in hierdie omstandighede hulle tot nuwe insigte sal bring wat mense se reaksies sal raak en verander. Die Reformasie het die wêreld kom verander en reaksies by mense ontlok wat godsdiens, politiek, wetenskap die kuns en musiek kom verander het. Dit was helaas toe nie die einde, maar ‘n nuwe begin. Ons eie gemeente is deel van hierdie Protestantse tradisie. Ons protesteer nie net dinge wat vernietiging bring nie, maar glo dat God se liefde en genade ons tot dade inspireer wat die goeie oor die kwaad laat seëvier. Hoe is dit besig om in hierdie tyd met jou te gebeur as jy na die onreg in Israel en Palestina kyk en dieselfde siklus hier in ons eie land beleef. Laat ons maak soos Luther sê: Kom ons sing Psalm 46 en glo dat God ons vandag inspireer tot klein dade wat ‘n wêreld kan verander.

Gebed

‘n Vaste burg is onse God,

ons skuil in Hom die sterke.

Hy is ‘n vesting in die nood vir ewig staan sy werke.

Al kom die bose aan, in sy oorwinaarswaan,

ons weet by al sy lis, sy lot is reeds beslis,

God self stel aan hom perke.