Dagstuk | Saterdag 18 November 2023

Om voortdurend te vernuwe … verander ons perspektief op God

Hebreërs 6:1. Laat ons dan nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig is nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap.

Omdat die meeste van ons van kinderdae af met kerk, kategese en huisgodsdiens grootgeword het, is God vir ons bekend. Te midde van hierdie bekendheid kan ons egter nie ‘n akkurate beeld skets van hoe Jesus gelyk het nie.  Wêreldwyd het alle Christene egter iets in gemeen wat ons wel ‘n dieper indruk gee. Dit is die simbool van ‘n kruis, wat ons herinner aan Jesus wat gelewe, gely, gekruisig, gesterf het en waar Hy uit die dood verrys het om die mag daarvan te oorwin. Dit wat God voorsien het, het gebeur. Ons het die simboliek van hierdie kruis deel van ons eie menswees en kultuur gemaak. In kort, God is by ons omdat Hy soos alle mense kom word het. Die simboliek aan die kruis versoen ons nie net met God nie, maar ook met alle mense. En so bevind ons onsself op ‘n plek waar ons kante van God ontdek wat ons nie al voorheen gesien of geken het nie. Wanneer daar in die Hebreërs vir ‘n tweede geslag gelowiges geskryf word, word hulle aangemoedig om voortdurend nuwe kante van God te ontdek. En so kom die uitdaging dan ook by ons uit. Laat ons dan nie net stilstaan by dié dinge wat ons reeds weet nie, maar nader aan God groei om opnuut God te leer ken en daardeur ook weer opnuut mense om ons te ontdek.

Gebed

Here Jesus, U graf en kruis was nie die laaste woorde oor U nie. Dankie dat ons aardse realiteite en diepste donker ook nooit die laaste woord oor ons is nie, omdat U uit liefde vir ons gesterf, en opgestaan het. Die lewe het ‘n manier om ons van koers te bring, dankie dat ons kennis van U kan verdiep om ons te help om of die situasie of onsself so te verander dat ons bokant ons uitdagings kan verrys.  Met die merktekens van die kruis aan ons, maar tog ook met die heerlikheid van u opstanding.

Amen.