Ons het hierdie week saam gedink oor wat dit beteken om oor grense te gaan. Ek lees daarom aan die einde van hierdie week ’n storie uit Lukas 10. Mag hierdie storie almal van ons uitnooi om grense te gaan waar ons ookal dit teekom:
Daar was ’n wetsgeleerde wat aan Jesus ’n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”
Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”
Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”
Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ‘n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar ‘n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’
“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”
Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”
Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
Amen