Teks: Filippense 3:13-14
Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
GEDAGTE
Paulus was ’n passievolle mens. Alles wat hy gedoen het het hy met oorgawe gedoen.
Om werklik passievol en met oorgawe te lewe beteken om saam met die Here te lewe. Om jou los temaak van alle aardse dinge wat jou wil verstrengel en jou werklik vas te bind aan God. Ek wil jou graag ʼn storie vertel. Dit is ‘n Duitse kortverhaal met die titel: “Der reichste Mann des Dorfes”, in Afrikaans vertaal: “Die rykste man in die dorp”. Dit gaan oor ‘n besondere ryk en selfgenoegsame man, verreweg die rykste man in die dorp. Een oggend ry hy deur die woud wat naby die dorp was en skielik hoor hy ‘n geluid. Toe hy fyner luister, blyk dit dat dit ‘n ou en baie arm man van die dorpie was, besig met ‘n eenvoudige gebed. Hy was besig om vir God te dank vir ‘n stuk brood en ‘n beker water. Dit was vir die ryk man so vreemd, dat dit hom onrustig gestem het. Met al sy skatte het dit nooit by hom opgekom om God te dank nie. Nadat hy weggery het, wou die beeld van die ou man hom nie los nie.
Intussen het ‘n storm opgesteek, die lug verdonker en die woud verkoel. ’n Neerdrukkende gevoel, soos van naderende onheil, het oor die ryk man gekom. Skielik was dit asof hy ’n stem gehoor het wat vir hom sê: “Vannag gaan die rykste man in die dorp sterf.” Verskrik en ontsteld het hy huis toe gejaag en die dokter ontbied. Dit was vir hom ’n nag van doodsangs en ellende. Met die eerste strale van die oggendson in sy kamer, het hy weer kleur in sy gesig gekry en meer gerus begin voel. In die dorp hoor hy toe later die dag, dat die dood wel die nag toegeslaan het. Die ou man wat hy die vorige dag sien bid het, het die nag gesterf.
By sy terugkeer vanuit die dorp, het sy vrou hom laggend gespot en gesê dat die geheimsinnige stem slegs sy verbeelding was. Die nag was immers lank reeds verby en hy leef nog. “Sekerlik”, het hy vir haar gesê, “maar die stem was tog reg. Vannag het die rykste man in die dorp wel gesterwe.” “Hoe kan dit tog wees?” het sy vrou gevra. “Wie is hier wat ryker is as ons?” Daarop het hy haar geantwoord: “Dié man wat vir God kan sê: ‘Buiten U begeer ek niks in die hemel en op die aarde nie … Hy was die rykste man in ons dorp.” Mag jy passievol lewe saam met God in jou lewe.
GEBED
Liewe Here weerhou my daarvan om op uiterlike dinge te vertrou –
dinge soos besittings, afkoms, verdienste.
Want Christus het my hoogste goed geword
toe Hy vir my Sy lewe afgelê het.
Daarom is my vroeëre bates nou waardeloos
en is die voorreg om Christus te ken vir my alles.
Dankie Here dat U vryspraak myne is deur geloof
en nie deur enige verdienste van watter aard nie.
Dankie dat ek mag deel in die krag van U opstanding
met ‘n uitsien na die eendag in die hiernamaals.
En daarom Here onderneem ek om my in te span,
onderneem ek om my uit te strek na wat voor is,
om sodoende die hemelse prys te kan ontvang
waartoe God my geroep het.
Amen