Hierdie week stap ons ’n pad met die gedagte van ’n pelgrimstog. Die afgelope week het ’n groep mense van Stellenberg-gemeente en Klipheuwel saam op ’n staptog in die Outenikwa berge gegaan. Hierdie staptog is ingerig as ’n pelgrimstog, waar ons doelbewus op reis gaan om nader aan mekaar en nader aan God te kom. Elke dag in hierdie week staan ons stil by ’n ander teksvers rondom “op pad” wees.
Lukas 6:12. In dié tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid, en Hy het die nag deurgebring in gebed met God.
Refleksie
Die laaste teksgedeelte in ons reis oor pelgrimstogte is ’n vers wat eintlik vreemd is. Hoekom sou Jesus, die seun van God, dit nodig gevind het om soveel tyd in gebed deur te bring? As daar een persoon is wat die hart van God die Vader ken en in ritme met die Vader leef, is dit Jesus. Hoekom sou dit nodig wees vir Jesus om te bid?
Ons kan nie noodwendig ’n antwoord gee vir hierdie vraag nie, maar as dit vir Jesus nodig was om Homself af te sonder in gebed, hoeveel te meer is dit nie vir ons belangrik nie.
Dit is ook belangrik om te sien dat Jesus op reis gaan spesifiek om te gaan bid. Ons weet ons kan enige plek en enige tyd met die Here praat, maar Jesus kies om eers ’n berg uit te klim en daar te gaan bid.
Daar gebeur iets met ons wanneer ons op ’n doelbewuste reis gaan om te gaan bid, wanneer ons iewers spesifiek heen gaan om tyd met God deur te bring.
Beplan vandag, of in hierdie week wat voorlê om op ’n spesifieke tyd na ’n spesiale plek van afsondering te gaan – in ’n park of natuurreservaat, of selfs ’n spesifieke kamer in jou huis, of ’n bankie in jou tuin en dáár tyd in gebed deur te bring.
Ek hoop dat hierdie pelgrimsreis van die afgelope week jou help in jou reis saam met God.
Gebed
Here, help ons om tye en plekke in ons besige lewens af te sonder om in gebed deur te bring, sodat ons kan luister na U stem in hierdie pelgrimstog van die lewe.
Amen