Dagstuk | Saterdag 14 Januarie 2022

Hierdie week het ons stilgestaan by ’n paar voorneme vir die nuwe jaar. By dankbaarheid, vreugde en nuwe dinge. Vandag staan ons stil by vertroue.

Spreuke 3:5-6. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. 6Ken Hom in alles wat jy doenen Hy sal jou die regte pad laat loop.

Refleksie

Die teks nooi ons uit om te reflekteer oor die dinge waarop ons vertrou. Ek wonder of ons aldag eerlik is oor waarin ons ons vertroue stel en of ons selfs bewus is van die dinge waarop ons vertrou? Soms gebeur daar iets wat ons weer herinner dat die dinge waarop ons dikwels vertrou, nie werklik betroubaar is nie. Ek het onlangs ’n staproete in die Amatolaberge saam met ’n groep mense gestap, waar ons gereeld hieraan herinner is. Met elke tree, plaas jy al jou vertroue op ’n stukkie grond of op ’n klip in ’n rivier. As jy dit gereeld genoeg doen, begin jy aanneem dat die grond onder jou voete betroubaar is. Dit vat egter net een gladde klip en jy eindig op jou rug in ’n rivier, of een stukkie gladde modder om te besef dat jy nie die grond onder jou voete kan vertrou nie. In die lewe werk dit ook so. Die pad wat vir ons betroubaar lyk, die grond waarop ons al ons vertroue plaas, is dikwels nie betroubaar nie.

Waarin dink jy plaas mense dikwels hulle vertroue, wat dalk nie so betroubaar is nie? As jy eerlik is met jouself, waarop vertrou jy?

Hierdie teks nooi ons uit om vir God te vertrou en nie op ons eie insigte staat te maak nie. Die pad waarop die Here ons nooi om te stap, lyk dikwels nie vir ons na die beste of die gemaklikste of mooiste pad nie, maar dit is die pad wat na ware lewe lei.

Mag jy in 2023 nie op jou eie insigte staatmaak nie, maar die Here ken in alles wat jy doen. Mag jy in die maklike en moeilike tye leer om Hom te vertrou.

Gebed

Here, ons vertrou so maklik op dinge wat eintlik onbetroubaar is. Ons eie insigte laat ons so maklik in die steek. Ons wil in hierdie jaar wat voorlê, die pad saam met U stap en ons vertroue in U stel – in die moeilike en maklike tye. Dankie, Here, dat ons U kan vertrou om ons op die regte pad te lei.