Dagstuk | Saterdag 11 November 2023

2 Kor 9:9.  Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.”

 RIGLYN 4: GEE DIT WAT AAN GOD TOEKOM:

Ek weet ons vra baie keer die vraag: Hoeveel moet ek gee? Wanneer ons oor geld/tiendes praat wil ons altyd praat oor hoeveel ’n mens moet gee. Asof daar ’n minimum bedrag is wat ’n mens vir God kan gee sodat jy darem die toets kan slaag. Vir Jesus gaan dit eger nie oor hoeveel nie, maar oor hoekom, of met watter gesindheid ek gee.  God se deel is immers alles wat ek besit en nie net ’n tiende daarvan nie. ‘n Dogtertjie sit by haar pa en hy pak R100.00 in muntstukke op die tafel uit.  Hy verduidelik vir haar dat hy ’n tiende vir die kerk gee en hy maak tien hopies van tien muntstukke elk, tien hopies van R10.00 elk en hy sê, hierdie een hopie gaan ons nou neem en vir die Here gee. Sy sê toe: “Pappa, wil jy vir my sê jy gaan al daardie ander nege hopies net vir jouself hou?”

Ek moet alles vir die Here gee. Elke sent behoort aan Hom. Eers as ek dit werklik kan doen sal ek volkome verlos wees. Martin Luther het gesê dat daar drie soorte bekerings is:

– die van jou verstand

– van jou hart

– en dan van jou beursie en dat die bekering van jou beursie ‘n bewys is van jou ware bekering!

Maar die Here stel my en jou as rentmeesters oor ons inkomste aan en as goeie rentmeesters vra Hy dat ’n mens ’n gedeelte sal gee sodat Sy koninkrykswerk hier op aarde gedoen kan word. Ons begroting moet begin by die deel wat ek aan die Here gee uit dankbaarheid.

GEBED

Here, ek gee alles aan U. Laat my asseblief ‘ʼn getroue rentmeester wees. Amen