Dagstuk | Maandag 9 Oktober 2023

https://youtu.be/9rLGpRTlITk

Die afgelope week het groep mense van Stellenberg-gemeente en Klipheuwel saam op  ’n staptog in die Outeniqua berge gegaan. Hierdie staptog is ingerig as ’n pelgrimstog, waar ons doelbewus op reis gegaan het om nader aan mekaar en nader aan God te kom. Dit was ’n reis waar ons meer oor onsself geleer het en saam met mense uit ’n ander gemeenskap kon stap, swaarkry, lag en deel in die wonder van die berge rondom ons. In die proses het ons iets van die Here ook ontdek.

In die Bybel sien ons dat die Here mense op reis neem en saam met hulle stap. Hierdie week reflekteer ons op verskillende tekste oor “op reis wees.”

Psalm 84:6

Gelukkig is mense wie se krag in U lê!

Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes:

Daar is ’n klomp dinge wat elke dag in ons gedagtes leef. Soos ons hierdie reis begin – raak bewus van wat in jou eie gedagtes leef – nou, op hierdie oomblik, maar dalk ook dinge wat al ’n ruk lank in jou gedagtes leef.

Daar is ’n wysheid wat sê “Pay attention to what you pay attention to”, of gee aandag waaraan jy aandag gee. ’n Ander manier om dit te sê, is: let op wat in jou gedagtes leef. Wanneer ons begin op let, kom ons dikwels agter dat daar dinge in ons gedagtes leef wat ons lewens negatief beïnvloed. Dalk is dit die negatiwiteit van die dinge wat ons in die media lees of hoor, dalk is dit persoonlike gedagtes of onsekerhede wat vir jou bly sê dat jy nie goed genoeg is nie. Jy raak ook moontlik bewus van positiewe dinge wat in jou gedagtes leef, opgewondenheid, of drome, of liefde vir iets of iemand.

Die eerste tree van ’n pelgrimstog, is ’n tree van bewuswording – om op te let wat in jou gedagtes leef.

Luister weer na die teks:
Gelukkig is mense wie se krag in U lê!

Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes:

Wat beteken dit vir jou dat pelgrimstogte in die gedagtes leef van dié wat hul krag in die Here vind?
Is dit iets wat in jou gedagtes leef?

’n Pelgrimstog, in eenvoudige terme, is ’n reis op pad na God. Dink jy die dinge wat in jou gedagtes leef bring jou nader aan God? Of vat dit jou soms vêrder van God af weg?

Hoe sal jou gedagtes lyk, as die pelgrimstogte in jou gedagtes leef?

Soos ons aan die begin van hierdie pelgrimsreis staan, let vandag deur die dag op wat in jou gedagtes leef. Vra die Here om jou te help om dinge in jou gedagtes te laat leef wat jou nader aan Hom bring.

Gebed

Here, maak ons vandag bewus van wat in ons gedagtes leef en mag die pelgrimstogte ook in ons gedagtes leef, sodat ons op ons reis, nader aan U mag kom.

Amen.