Teks: Markus 6:30-34
Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”
32Hulle het met ‘n skuit na ‘n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ‘n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.
Vir n baie lang tyd het ek ‘n prentjie van Jesus gehad wat altyd hard aan die werk was. Wat haastig, doelgerig en gefokus van een dorp na die volgende gegaan het en met ’n onuitputbare energie besig was om die wêreld te red. In hierdie storie lees ons van ’n Jesus wat sy eie moegheid raakgesien en erken het. Ons lees van ’n Jesus wat sy eie dissipels se uitputting opgemerk het en wat op ‘n sagte deernisvolle manier reageer. Ons ontmoet ’n Redder wat iets uitwys wat onder die oppervlak lê van wat ons as “produktiewe” lewens beskou – ’n diep behoefte na ruimte. ’n Behoefte na refleksie, na alleenheid, na rus. Wat my laat dink dat die prentjie van ’n haastige, besige Jesus, miskien my eie projeksie is. My eie vrees vir vermorste tyd. So miskien nooi hierdie storie ons ook uit om weereens vir onsself af te vra, waar lê die balans in ons lewens. Om eerlik te wees oor die eise wat die lewe stel en dan te kom rus by die Een wat met deernis na ons kyk.