Teksgedeelte: Johannes 1: 1-5 “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Oor ‘n week vier gelowiges die begin van Advent. Die afwagting op die Lig waarvan Johannes praat. Maar ek dink dis maklik om in hierdie tyd te vergeet van die ander kant van advent. Die ervaring van donkerte. Ek vermoed baie van ons was al daar. Tye van diep twyfel of ’n moegheid wat ons lam lê. Tye wat als donker voel. Soms is dit ons eie keuses of besluite wat ons daarheen neem. Ander kere bevind ons onsself in ’n donker plek en diep in ons binnekant weet ons dat ons veronderstel is om daar te wees en te bly en te wag totdat ons moet sien wat ons moet sien. Totdat ons moet leer wat ons moet leer. Ek glo ons ontmoet dan ’n ander God. ’n God wat op ’n besondere manier ons vashou en versorg. Op ’n manier wat ons nie soseer in die lig ervaar nie. Soms lank daarna kyk ons terug en besef God was ook daar toe alles donker gevoel het. Soos die digter skryf, al gaan ek deur die vallei van doodskadu, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. Mag ons in hierdie tyd nie vergeet hoe dit voel in die donker nie, en vashou aan die troos dat God ons ook nie daar los nie.