Aan die begin van hierdie week lees ek graag ’n gedig van Julia Fehrenbagher, The most important thing – vertaling deur Jan van Zyl.
The Most Important Thing
Ek skep ’n tuiste in myself.
’n Skuiling van liefde en deernis
Waar alles vergewe is en ek net kan wees –
’n stil sonkol waarin ek my stadig uitstrek,
’n plek waar die verbode en onuitgesproke,
verwelkom, gespreek en laat gaan word.
’n Sagte plek wat ek my eie kan noem.
Ek maak my arms oop vir my ganse self –
My vrese, fout-vind, uit-mekaar-val, my onvoltooide self.
Wetende dat elke stukkie onkruid, onbenullige saadjie,
Elke druppel reën, my grond ryker maak.
Ek sal ’n kers aansteek, ’n warm koppie koffie maak
en om die hitte van my eie vuur kom sit.
Ek sal huil as ek wil,
want ek weet dat hierdie vlam brandend bly
ongeag my onvolmaaktheid en leemtes.
Ek skep ’n tuiste in myself
waar genade in oorvloed blom.
’n Skuiling van liefde en deernis
wat die vrug van waarheid dra.
Ek sing Hallelujah vir die wye blou lug.
Kyk, hoe hierdie tuin oopbreek in blom.