Dagstuk | Maandag 16 Januarie 2023

Johannes 1:29-39. Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ‘n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ 31Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”

32Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ 34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

35Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?”

39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”

Kyk. Sien. Vind. Dis soos ’n mantra wat in hierdie teksgedeelte herhaal word. En dan Jesus se vraag aan sy dissipels, moontlik die eerste vraag wat Hy vir hulle vra. Wat soek julle? Dieselfde vraag wat ons onsself kan afvra. Ek dink dis dalk ook ’n goeie vraag om hierdie jaar mee te begin. Soos ons instap in hierdie nuwe jaar, wat is dit wat ons groet en wat is dit waarvoor ons hoop? Wat is dit waarna ek streef, of miskien voor vrees? Dis nogal opmerklik dat die dissipels nie die vraag beantwoord het nie. Miskien omdat hulle self nie seker was nie. Hulle vra Hom eerder, waar gaan U tuis. Met ander woorde, waarheen is U oppad? Jesus se reaksie is bloot, kom saam, dan sal julle sien.

Kyk, sien en vind. Ons word oor en oor uitgenooi op hierdie selfde pad. ’n Bereidwilligheid om verder te gaan, weer te vra, langer te kyk, selfs as ons nie weet waar “huis” is nie. Mag ons in hierdie jaar aanhou kyk, totdat ons sien wat Hy sien en aanhou soek na Hom wat in werklikheid na ons soek.