Dagstuk | Donderdag 9 November 2023

Filippense 4:19: En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

RIGLYN 2: God seën jou sodat jy tot seën vir ander mense kan wees.

God seën jou sodat jy tot seën vir ander kan wees. Kan ek dit op ʼn ander manier stel. God gee vir jou sodat jy dit weer op ʼn verantwoordelike wyse aan ander kan uitdeel. God gee vir jou oorvloed en gee jou die reg om daarvan te lewe, maar sy bedoeling was dat jy ook Sy werk op aarde daarmee moet finansier. Dit was nooit en nêrens God se idee dat Hy ʼn klomp besittings en geld aan jou toevertrou sodat jy dit eksklusief op jouself moet spandeer nie, dis nie God se plan nie. 2 Kor 8:13 waar Paulus skryf: “Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14 moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15 Daar staan ook geskrywe: “Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met ’n bietjie, nie te min nie.”

Ons loop almal gevaar om selfgesentreerd te raak. Om net aan ons eie behoeftes te dink  Indien jy ‘n vervulde, vrye en bevredigende lewe wil lei, het jy mense rondom jou nodig.  Mense wat jy kan liefhê en dien en kan seën met jou geld en besittings.  Dit is slegs deur liefdevolle diens dat jy kan groei tot geestelike volwassenheid. Leef om vir ander mense tot seën te wees en jy sal in verwondering staan oor die kwaliteit van lewe wat jy ontdek.

GEBED

Here maak asseblief my oë oop dat ek duidelik kan sien wie ek kan help AMEN/