Vandag is Donderdag 7 Desember en hierdie week is ons tema: Adventskrans, waar ons nadink oor die nuwe kerklike seisoen waarbinne ons beweeg. Die Adventskrans is ‘n gebruik wat in die 16de eeu by Lutherane sowel as Katolieke in Duitsland begin het. Daarmee word Advent ingelei, die seisoen waarin Christene hulleself geestelik voorberei om die koms van Jesus Christus met Kersfees te vier.
Ons het met ons Kerssangdiens die mooiste Adventskrans gemaak wat vir die volgende paar weke tot Kersdag in die liturgiese ruimte teen die muur gaan hang. Die Adventskrans is ‘n sirkelvormige krans met immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Gewoonlik as die krans plat lê word daar vier of vyf kerse gerangskik. Vier Sondae voor Kersfees begin die seisoen van Advent en word elke week een kers op die krans aangesteek. Elke kers verteenwoordig ‘n aspek van die geestelike voorbereiding op die koms van Christus.
Vandag reflekteer ons oor ons 4de kers – GELOOF OF LIEFDE
Die vierde kers, ook pers of blou, verteenwoordig geloof of liefde. Dit word die “Betlehemkers” genoem as ‘n herinnering aan Maria en Josef se reis na Bethlehem. Dit word soms ook die “Bybel Kers” genoem na aanleiding van die geloof en vertroue wat die Bybelverhale in ons skep.
‘n Vers wat die boodskap van hierdie Sondag raakvat is in Paulus se eerste brief aan Timoteus in 1 Tim 1:14:
“En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is.”
Gebed: Vader, U het u Seun gestuur uit liefde vir die wêreld. Laat ons hierdie tyd van voorbereiding gebruik om die diepte van u liefde vir ons te besef. Leer ons om lief te hê soos U liefgehad het, en laat ons harte oorvloei met liefde vir ons naaste. Amen.