Dagstuk | Donderdag 28 Desember 2023

 

In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Johannes 3:16 

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 

 Refleksie 

Om te gee, werklik te gee sonder om terug te verwag, is een van die kosbaarste gebare van liefde. Dit is so ’n rare verskynsel dat die Franse Filosoof, Jacques Derrida, ’n ware geskenk beskou het as die onmoontlike wat in die wêreld inbreek. Kersfees, sê Johannes, is ’n geskenk wat gegee word. ’n Geskenk wat gegee word uit liefde vir die wêreld.  

Kersfees is amper sinoniem met geskenke. Dink bietjie aan die manier wat ons vir mekaar geskenke gee. Dikwels gee ons uit ’n plek van skuld (ek gee omdat iemand anders vir my iets gee) of uit verwagting (as ek iets gee, gaan ek hopelik ook ’n geskenk kry), of selfs net uit gewoonte uit. Dink aan die geskenk wat al vir jou die meeste beteken het. Waarskynlik is dit nie die grootste, of duurste geskenk nie, maar ’n geskenk wat met groot liefde gegee is. 

Die manier wat Johannes die koms van Jesus beskryf, is dat die ewige realiteit van Christus konkreet gemaak word in Jesus. Jesus kom openbaar iets wat nog altyd waar was. Liefde en gee is twee dinge wat nog altyd in die hart van die Triniteit leef. 

Richard Rohr stel dit mooi:  

“For us, the Trinity must be the absolute beginning point—and ending point, too. Outpouring Love is the inherent shape of the universe, and only when we love do we fully and truthfully exist in this universe and move toward our full purpose.  

Die inherente vorm van die heelal, is uitstortende liefde. Dit is die geskenk wat sigbaar word in Jesus Christus, wat ons uitnooi om deel te neem aan wat van die begin af waar is. Om onvoorwaardelike liefde uit te stort in die wêreld in, binne die ewige liefde van God. 

Mag ons in hierdie Kerstyd opnuut God se liefde vir ons ervaar. Mag ons opnuut in hierdie Kerstyd God se liefde uitstort op ander. 

Gebed 

Here God, aan U liefde is daar geen einde nie. Wat reeds aan die begin was, het sigbaar geword in Jesus, sodat ons U liefde kan ken. Liefde wat alle verstand te bowe gaan. Mag ons, wat hierdie liefde ken, dit uitstort die wêreld in, sodat elkeen wat in U glo, die ewige lewe mag hê. 

Amen.