Dagstuk | Donderdag 21 Desember 2023

Matteus 12:6-8. Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel. As julle begryp het wat dit beteken: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie, dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Die seun van die mens is immers Here oor die Sabbat.

Jesus is deur die Fariseërs beskuldig dat sy dissipels die Wet van Moses oortree toe hulle op ’n Sabbat van hongerte die koringare van ’n saailand gepluk en geëet het. In Jesus se tyd is mense se godsdienstige toewyding aan God gemeet deur gereeld by die tempel offers te bring en nougeset die Wet van Moses na te volg. Jesus en sy dissipels is op grond hiervan veroordeel. Jesus se geboorte en menswees bring ’n dieper dimensie in ons godsdiens en geloof, omdat dit ons skielik nie net aan God bind nie, maar aan mense. Om deur mense se nood en kwesbaarheid geraak te word (barmhartigheid) is ook godsdiens, want dit verbind ons aan God wat liefde is.

Ons is geneig om baie eng oor ons toewyding aan God te dink en daarin soos die Fariseërs mense op grond van tekortkominge te beoordeel en te veroordeel. Die laaste ding wat dan gewoonlik in ons gedagtes opkom is om barmhartig te reageer.

‘n Hart wat kan voel, omgee, medelye en begrip kan toon en geduldig is, is beslis nie van minder waarde as die reëls en beginsels van ons godsdiens wat ons so hoog ag nie. Die baie bekende 1 Korintiërs 13 herinner ons dat dit self groter is. Sonder liefde is ons niks.

Gebed

Here, U wat hierdie mense liefhet wat ek nie kan verdra nie. U wat die harte verstaan van hulle wat ek nie kan begryp nie. U wat die innerlike worsteling ken van hulle wat ek ignoreer. U wat die goeie motief sien in mense se optrede wat ek as skynheilig beskou – open tog my oë en my hart. U ken my beter as wat ek myself ken; U het my liewer as wat ek myself het . . . Here! Leer my liefhê met u liefde.

Amen.