Dagstuk | Donderdag 14 Maart 2024

Ek wil graag weer oor ’n gedeelte van gister se teks reflekteer en hoe dit ons help om oor die  grense in ons lewe te gaan:

1 Korintiers 13: 4-7

Die liefde is geduldig,

die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

Dit handel nie onwelvoeglik nie,

soek nie sy eie belang nie,

is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

Dit verbly hom nie oor onreg nie,

maar verheug hom oor die waarheid.

Dit bedek alles,

glo alles,

hoop alles,

verdra alles.

As die bekende teoloog Dirkie Smit reflekteer oor hierdie gedeelte skryf hy dat liefde blyk dikwels uit wat nie gese word nie. Die mees opregte dank en lof is soms omraam deur genadige swye oor wat ook opgehaal sou kon word. Liefde soos die skrywer se, hou nie boek van die kwaad nie, maar bedek juis alles.

Ek dink baie van ons ken hierdie ervaring. Die dankbaarheid teenoor ouers wat van misstappe vergeet en nooit weer daaroor praat nie. Vriende wat ons bly vashou ondanks ons donker kante, wat hulle selfs ken en dikwels pynlik moes meemaak. Die geheimenis dat intieme verhoudings traumatiese insidente kan oorleef omdat iemand die krag vind vir vergewe ondanks die seer. Die wonder dat mense bereid is om te vergewe en te vergeet en nie vir altyd ons foute en broosheid teenoor ons te hou en ons daaraan herinner nie.

Dirkie Smit maak dan die punt en se, geestelike boekhouding maak lewe onmoontlik. Ek dink dis die punt. Ek dink hierdie gedeelte nooi ons uit om nie die verlede teen mekaar te hou maar om te vertrou dat indien ons mekaar en ook onsself vryspreek, ons ook vry word. Dit is deel van die diep geheimenis van die lewe