Psalm 37:4. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
Refleksie
Vandag staan ons stil by vreugde. Hierdie Psalm laat God amper soos ’n kosmiese vending-masjien klink. Asof ons God kan gebruik om ons drome te verwesenlik – wanneer ons net die regte dinge doen. Asof vreugde die muntstuk is wat ons in die masjien ingooi om te kry wat ons wil hê. Ek wonder egter of hierdie versie ons nie juis na die teenoorgestelde perspektief uitnooi nie: wanneer jy jou vreugde in die Here vind, word jou begeertes verander om meer in lyn te wees met God se hart. Wanneer jy jou vreugde in die Here vind, kry jy verseker wat jy begeer, maar wat jy begeer, lyk nie meer soos voorheen nie. Dit is waarom Jesus ons ook aanmoedig om éérs die Koninkryk toe soek.
Mag ons in 2023 al hoe meer vreugde vind in God. Mag God ons begeertes al hoe meer verander om in lyn te wees met sy Koninkryk.
Gebed
Here God, daar is so baie dinge wat vir ons vreugde belowe. Dinge wat op die ou eind leë beloftes is. Help my om vandag my vreugde in U te vind. Help my om vreugde te kies, wanneer dit lyk asof daar min redes is om bly te wees. Mag ek ook die vreugde wat U vir my gee, versprei in die wêreld in. Amen.