Dagstuk | Donderdag 11 Januarie 2024

Vandag is Donderdag 11 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons noem Epifanie. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoedat mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm. Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:

Vra om God se Seën oor jou Doelwitte

Bybelteks: Psalm 20:4-5

“Mag Hy al U graanoffers onthou en u brandoffers aanneemlik vind. Mag Hy u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk.”

Wysheid: Skep Balans. Met die wegspring van ’n nuwe jaar het ons gewoonlik ’n hele lys vol nuwe jaar voornemens. Hoe lyk jou lys van planne en doelwitte vir 2024? Mag dit wat ons hierdie jaar wil doen vir die Here aanneemlik wees. Mag dit wat ons doen vrug dra. Mag ons ja sê vir die regte goed en nee sê wanneer ons moet. Bewaar ‘n gesonde balans tussen werk, vrye tyd, familie en persoonlike selfsorg. ‘n Gebalanseerde lewe lei dikwels tot ‘n beter geestelike, emosionele en fisiese welsyn. Ons bid vir die Here se seën oor ons hande werk met die wete dat ons so afhanklik van Sy goedheid en guns is. Watter lewende offer wil jy die jaar vir die Here gee?

Gebed: Here, ek plaas my doelwitte en drome vir hierdie nuwe jaar voor U voete. Mag U seën op ons inisiatiewe wees en my help om te groei, nie net persoonlik nie, maar ook geestelik. Aan U alleen die eer!

Amen.