TEKS: Markus 12:42. Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd.
Jesus sit aan die oorkant van die offerkis waar Paasfeesgangers besig is om hulle offers in te gooi. Dit was een van die wette van die Jode dat hulle aan die tempel en aan armes moet gee as deel van hulle diens aan God. Dit was by een van hierdie offerkiste in die tempel waar Jesus gekyk het hoe mense geld ingooi. Daar het baie welgestelde mense verby gekom wat groot somme geld in die offerkis gegooi het. Muntstukke van goud, silwer, koper en brons.
Dan verskyn daar ’n arm weduwee en sy gooi twee lepta in. Die vrou, wie se naam ons nie ken nie, het twee van die kleinste munte in die offerkis ingegooi. Die dissipels het gedink dit is maar baie min, maar Jesus wys hulle daarop dat sy meer gegee het as al die ander mense. Die rede daarvoor – al die ander het uit hulle oorvloed gegee, uit hulle materiële rykdom en daar was nog baie wat hulle sou kon gee, maar hierdie vrou het uit haar armoede gegee. Sy het alles gegee. Sy het twee muntstukke gehad en kon maklik een vir haarself gehou het, maar sy het nie. Sy besluit eerder om alles vir God te gee en Hom totaal te vertrou om vir haar te sorg. Sy het alles ingegooi waarvan sy kon leef, waarmee sy kos kon koop. Sy het gegee dit wat sy gehad het en sy het dit met ’n hart vol vertroue gegee.
Al was haar bedraggie klein in vergelyking met dit wat die ander mense ingegooi het, het sy steeds meer as hulle gegee. Uit haar armoede het sy steeds gegee. Sy was gehoorsaam aan God en sy het geweet Hy sal sy beloftes nakom om vir haar te sorg. Dit is die kern van hierdie gedeelte. Nie die feit dat sy wel alles ingegooi het nie, maar die feit dat sy haar nou totaal in God se hande gewerp het. Sy het Hom nou totaal vertrou. Sy het alles maar alles vir Hom gegee.
GEBED
Here, ek vertrou U volkome dat U vir my sal sorg. Daarom kan ek ook met vrymoedigheid vir U koninkryk bydrae.
Amen