Dagstuk | Dinsdag 5 Desember 2023

Vandag is Dinsdag 5 Desember en hierdie week is ons tema: Adventskrans, waar ons nadink oor die nuwe kerklike seisoen waarbinne ons beweeg. Die Adventskrans is ’n gebruik wat in die 16de eeu by Lutherane sowel as Katolieke in Duitsland begin het. Daarmee word Advent ingelei, die seisoen waarin Christene hulleself geestelik voorberei om die koms van Jesus Christus met Kersfees te vier.

Ons het met ons Kerssangdiens die mooiste Adventskrans gemaak wat vir die volgende paar weke tot Kersdag in die liturgiese ruimte teen die muur gaan hang. Die Adventskrans is ‘n sirkelvormige krans met immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Gewoonlik as die krans plat lê word daar vier of vyf kerse gerangskik. Vier Sondae voor Kersfees begin die seisoen van Advent en word elke week een kers op die krans aangesteek. Elke kers verteenwoordig ‘n aspek van die geestelike voorbereiding op die koms van Christus.

Vandag reflekteer ons oor ons 2de kers – VREDE

Die tweede kers, weer pers of blou, is die kers van vrede. Dit word die “Engele Kers” genoem na aanleiding van die engeleskaar wat gesing het van die vrede wat Christus se geboorte op aarde gebring het.

‘n Vers wat die boodskap van hierdie vrede-kers raakvat is in Lukas 2:13-14 waar hy juis die engele se loflied weergee:

“En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!”

Gebed: Vader, ons is dankbaar vir die vredevolle boodskap van die engele oor die geboorte van u Seun, Jesus Christus. Mag ons die vrede van Christus ervaar te midde van die gejaagdheid van hierdie seisoen. Help ons om vrede te bring waar daar konflik is, en laat ons harte gerus wees in u teenwoordigheid. Amen.