In die aanloop tot Advent wat volgende week begin nooi ek jou uit om verder te reflekteer oor die teksgedeelte wat ons gister gelees het.
Teks gedeelte Johannes 1:1. “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Die Christelike geloof is vol misterie. Misterie beteken nie bloot iets geheimsinnigs nie, dit het ook te make met spraakloosheid. Die groot oomblikke in ons geloofsjaar – die krip, kruis, graf, hemelvaart en uitstorting van die Gees – is vol misterie omdat dit met onverklaarbaarheid te make het; die onverklaarbaarheid van God se besig wees met die mens; die God van die heelal se tuiskoms in die vlees.
Die skrywer Lisel Joubert herinner ons dat misterie beteken ons hoef nie alles te kan verklaar om te glo nie. Ek dink ook nie die debatte help ons noodwendig nie aangesien dit impliseer dat daar ’n wenner en verloorder moet wees. Hoe praat ’n mens oor eenmalige gebeure en hoe vertaal ’n mens wat God doen?
Miskien deur te begin verstaan en te verwoord kan ons ook bid vir insig. Ons behou die wete dat die misterie altyd groter is en daarom hoef ons nie ons verstaan in klip te giet nie. John de Gruchy dink ek se dit goed as hy verduidelik: “To lose respect for mystery is to lose respect for life, for the creation, for the other, for God”.
Mag ons in die oploop tot advent berusting vind in die misterie van die seisoen
Amen