Dagstuk | Dinsdag 24 Oktober 2023

Deuteronomium 10:16-19. “Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie. Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. Hy laat reg geskied aan die weeskind en weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdeling liefhê, want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte”

Die Bybelse Israel het vir lank met die misplaaste oortuiging geleef dat God altyd in enige oorlog situasie aan hulle kant sal baklei en aan hulle die oorwinning sal besorg. Dit was daarom ‘n groot ontnugtering toe die tempel in Jerusalem in 586 v.C. deur die Babiloniërs en daarna in 70 n.C. deur die Romeinse ryk vernietig is. Deur die profete het die boodskap duidelik na vore gekom: God laat Hom nie deur mense manipuleer nie! Veral nie deur mense se godsdienstige toewyding wat God se seën en voorspoed probeer waarborg ten koste van ander nie (lees Jesaja 1:11-17). Dit het nooit vir God net oor die behoud van een nasie gegaan nie. Wanneer jy die Ou Testament lees besef ’n mens dit met ‘n skok. Israel was deur God uitverkore om ’n instrument te wees, nie ’n verhewe nasie nie. Dit was vir die profeet Jona bitter en moeilik om te aanvaar. Hy verkies eerder om te sterf as om die implikasie van God se genade vir die slegte mense van Nineve te aanvaar.

Wat sou dit vandag vir ons beteken om te waak teen hierdie hardkoppigheid? God bevind homself nie net aan een kant van die mensgemaakte grense nie. Tog, is ons geneig om in ons gebede en uitgangspunte God se arm te draai om vir ons kant te kies. Dink vandag oor die radikale implikasie van hierdie Evangelie in ons daaglikse lewe. God is gedurig besig om ons oor mensgemaakte grense te nooi om Hom daar te ontmoet en om ons perspektief oor mense te verander.

Gebed

Here, dit is nie vir ons maklik om ons gedagtes, perspektiewe en beeld van ons omstandighede te verander nie. Dit is diep in ons ingegroef deur vorige ervaringe, die kulture waarin ons grootgeword het en die gewoontes waarin ons verval het. Elke dag bring ons voor grense wat ons laat terugval op dit wat gegroef en bekend is. En dan is dit skielik skrikwekkend om te dink hoe ons in U ons eie godsdienstigheid ingepas het. Here, breek deur ons groewe en hardkoppigheid om die omvang van U grootheid vandag anderkant ons eie grense te kan beleef. Dankie dat U ons help om deur hierdie ervaringe wat vir ons vreemd is, nuwe plekke van tuiswees te vind. AMEN.