Hierdie week, in hierdie Paastyd, reis ons saam met die eerste gemeente in Handelinge.
Handelinge 2:43-47
43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
Refleksie
Gee en Deel
Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.
As jy hierdie gedagte hoor, watter emosies kom by jou op? Vir baie van ons maak hierdie gedagte ons so bietjie ongemaklik. Maar dalk is dit ’n goeie ding dat ons so bietjie ongemaklik voel oor hoe geheg ons aan ons besittings is. Ons dink dalk dit is ’n mooi gedagte en was dalk moontlik vir daardie eerste gemeente, maar dit sal nooit vandag werk nie.
Die eerste gemeente was gekenmerk deur hulle vrygewigheid en die feit dat hulle nie veel waarde aan besittings geheg het nie, omdat die boodskap of die weg van die Koninkryk van God vir hulle veel belangriker was. Hoe moeilik dit vir ons ook al is, nooi hierdie teksgedeelte ons uit om ’n wêreld te verbeel waar daar nie meer ongelykheid bestaan nie, waar mense nie soveel as moontlik vir hulleself bymekaarmaak nie, maar waar mense met mekaar deel, sodat elkeen genoeg het, volgens hulle behoefte.
Waarheen nooi vandag se gedagte jou uit? Dalk nooi dit jou uit om weer te dink oor die manier of hoeveelheid wat jy gee? Of om te reflekteer oor die waarde wat jy aan jou besittings heg?
Daar is ’n mooi storie van ’n gemeenskap van mense wat bymekaargekom het en besef het hulle almal bly na aan mekaar/naby mekaar, maar elkeen van hulle besit ’n grassnyer en ’n boor en wat ook al anders. Hulle het besluit om alles te verkoop wat hulle in die gemeenskap meer as een van het en dan die grassnyer, of boor, of strykyster, of wat ook al onder mekaar te leen, soos wat hulle dit nodig kry. Hulle het besef hulle kan met minder klaarkom, maar dit het ook die alleenheid in die gemeenskap gebreek, want skielik moes jy weer aan jou bure se deur klop om een of ander ding te leen. Dalk word jy vandag uitgenooi om iets wat jy het, met iemand anders te deel, om so ook die alleenheid tussen mense af te breek.
Mag ons gaan leef as deel van ’n nuwe gemeenskap waar ons vrygewig is en bereid is om deel wat ons het.
Gebed
Here God, ons heg so maklik waarde aan dinge wat tydelik is en op die ou eind eintlik geen waarde het nie. Maak ons bewus van ons verhouding teenoor ons besittings en gee ons ’n vrygewige hart wat bereid is om te deel.
Amen.